CrimeNews

Vrou sê sy ‘kan niks onthou’ van skietvoorval by Koro Creek

Chrisna van der Merwe, wat aangekla word van die moord op haar beroepsjagter-man, Botes van der Merwe (48), het op Maandag 30 Augustus vlugtig in die hooggeregshof in Polokwane verskyn.

Chrisna beweer sy kan glad nie onthou wat tydens die skietvoorval op 11 Desember 2018 in hul huis op die Koro Creek-gholflandgoed in Modimolle gebeur het nie.

Die staat het Maandag aansoek gedoen om Van der Merwe vir sielkundige waarneming te verwys aangesien nie-patologiese geheueverlies as verweer aangevoer word.

Volgens haar regsverteenwoordiger is dit algemeen vir die staat om ’n evaluasie aan te vra om te bepaal of die beskuldigde handelingsbevoeg is of was tydens die voorval.

Regter Ephraim Makgoba, regterpresident van Limpopo, het die staat se aansoek aanvaar.

Volgens AO James Findlay, polisiewoordvoerder van Modimolle, sal Van der Merwe by die Thabamoopo-psigiatriese hospitaal, 50 km suid van Polokwane, opgeneem word vir sielkundige waarneming.

Van der Merwe is ná haar eerste hofverskyning in November 2019 in die streekshof in Modimolle op waarskuwing vrygelaat.

Die staat het destyds nie borgtog teengestaan nie omdat sy nie as ’n vlugrisiko beskou is nie.

Die verhoor sou in Oktober 2020 in die hooggeregshof in Polokwane begin het, maar is weens die Covid-19-pandemie tot Maandag 30 Augustus vanjaar uitgestel.

Die regter het die verhoordatum uitgestel na Woensdag 6 Oktober.

Related Articles

Back to top button