CrimeNews

Vermeende veedief op heterdaad betrap

’n Winkeleienaar van Mookgophong is die afgelope week in hegtenis geneem nadat twee vermoedelik gesteelde skape in sy besit gevind is.

Volgens kapt. Mape Modiba, bevelvoerder van die polisie in die dorp, het ’n boervrou die man op Donderdagmiddag 5 Augustus op haar plaas met die skape op die agterste sitplek van sy motor betrap.

Die man, wat van Pakistan afkomstig is, het ’n klein winkeltjie in die hoofstraat in Mookgophong.

Hy het glo op die plaas verdwaal nadat hy die skape gebuit het en kon nie weer sy weg na die toegangshek vind nie.

Die eienaar, Rachel Matabatha, het onraad vermoed toe sy die vreemde motor op haar grond sien. Sy het die polisie dadelik in kennis gestel. Haar bure het eerste opgedaag om hulp te verleen.

Sy het die man gekonfronteer en hy het beweer dat hy by die verkeerde adres was en wou toe sonder versuim die plaas verlaat. Sy het hom egter by die hoofhek gekeer om te ry en gewag totdat die polisie opdaag.

Die man is daar in hegtenis geneem.

Die plaas Klipfontein waar die voorval plaasgevind het, is op die R101 tussen Mookgophong en Mokopane naby die Tobias-afrit. Dit is ongeveer 5 km buite die dorp.

Die verdagte het op Vrydag 6 Augustus in die hof in Mookgophong verskyn, maar die saak is tot Dinsdag 10 Augustus uitgestel sodat hy regshulp kan kry.

Volgens Matabatha het sowat 20 skape op haar plaas verdwyn wat ’n geraamde verlies van R40 000 is.

Sy het gesê sy het danksy kringtelevisiekameras op haar eiendom nóg ’n voertuig gesien wat die eiendom vroeër verlaat het. Die hek was oopgebreek.

Die polisie ondersoek die saak.

Related Articles

Back to top button