CrimeNews

Bela-Bela-polisie staan bont om misdaad te keer

’n Man van Bela-Bela, wat voorheen in die sop was oor diefstal, is weer in die Bela-Bela-landdroshof gevonnis.

Moses Lebudi is in Februarie naby ’n vakansieoord buite die dorp met ’n klomp items in sy besit betrap wat vermoedelik by woonplekke in die omgewing gesteel is.

Volgens die polisie is Lebudi op heterdaad betrap toe hy glo kragkabels op ’n privaat eiendom met ’n tafelmes probeer afsny het.

Lebudi het sedertdien op drie aanklagte van die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur, asook diefstal, in die Bela-Bela-landdroshof verskyn.

Die twee klagtes wat verband hou met die beskadiging en steel van noodsaaklike infrastruktuur is laat vaar, maar hy is skuldig bevind aan diefstal en tot 18 maande tronkstraf gevonnis.

  • Die twee mans wat daarvan verdink word dat hulle by ’n veediefstalsindikaat betrokke is, Hans Wagner en Elias Mafafo, se saak duur voort. Die mans is onderskeidelik in Springs en Bela-Bela aangekeer nadat hulle met ’n veediefstalsaak op ’n plaas in Langkuil verbind is.

    Beeste ter waarde van R184 000 is luidens die klagstaat gesteel, maar deur die polisie in Gauteng teruggevind. Die hof het tydens hul laaste verskyning borgtog van R2 000 elk toegestaan. Die mans moet weer op Woensdag 11 Augustus in die hof verskyn.

  • Bruce Phiri, Valentine Masuku en Dumisani Khanye, drie buitelanders wat in Junie vanjaar met ’n vermoedelik gesteelde voertuig op die Eersbewoond-pad aangekeer is, se hofsaak duur ook voort. Die drie het volgens die polisie tydens hul inhegtenisneming die aandklokreël onder die gewysigde vlak 4-inperking verbreek.

    Die voertuig, ’n Hyundai i10, is vermoedelik vroeër in Yeoville gesteel, het die polisie gesê. Hulle het op Maandag 26 Julie in die hof verskyn en wag op ’n streekhofdatum.

  • Twee vermeende dwelmsmouse het lig daarvan afgekom nadat hulle glo met die dwelmmiddel nyaope naby die Bela-Bela Waterfront betrap is. Die straatwaarde van die dwelms word op R20 000 geraam. Lotta Marudu van Bela-Bela en Lebogang Mosweu van Modimolle is aangekla van besit van dwelms. Borgtog van R500 elk is toegestaan. Dié saak duur voort.

Related Articles

Back to top button