CrimeNews

Spanwerk lei tot inhegtenisname

Puik samewerking van verskeie polisie-eenhede, veiligheidsorganisasies en lede van die publiek het op Saterdag 24 Julie gelei tot die inhegtenisname van ’n groep ontsnaptes in die Eersbewoond-omgewing tussen Modimolle en Bela-Bela.

Volgens AO James Findlay, polisiewoordvoerder, het die vier op Woensdag 21 Julie ontsnap terwyl hulle onderweg was vanaf die korrektiewe dienssentrum in Polokwane na Mokopane waar hulle op Vrydag 23 Julie in die Mokopane-streekhof moes verskyn vir vonnisoplegging.

Die ontsnapping het op die R101-deurpad, suid van Polokwane, plaasgevind. Die polisie ondersoek ’n saak teen die polisiebeampte wat glo tydens die voorval deur die mans oorrompel en van sy dienspistool beroof is.

Die polisie ondersoek die moontlikheid dat dieselfde voortvlugtiges kort ná hul ontsnapping by twee afsonderlike voorvalle betrokke was waar vragmotors op die N1-snelweg tussen Kranskop en Mokopane gekaap is.

Die eerste vragmotor is op Donderdagaand 22 Julie naby Eerstegoud buite Polokwane gekaap. Die tweede insident het op Vrydag 23 Julie omstreeks middernag by die Nyl Plaza-tolhek plaasgevind.

Die aangehoudenes het te voet op die vlug geslaan nadat die gekaapte vragmotor teen ’n padversperring by die Kranskop-tolhek gebots het. Volgens die polisie is ’n grootskeepse soektog van stapel gestuur om die vier vas te trek.

Die onderskeie rolspelers het almal op Saterdagoggend 24 Julie in die Kranskop-omgewing byeengekom onder leiding van AO. Ross Rossouw van die Modimolle-polisie. Daar was beamptes van nabygeleë polisiestasies, asook verskeie SAPD-eenhede, ’n polisiehelikopter en privaat vliegtuig, lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), Limpopo-hoofwegpatrollie (LHP), Heritage Protection Group (HPG) en verskeie takke van AfriForum.

Een van die voortvlugtiges het glo op die polisie losgebrand terwyl hulle besig was om hom aan te keer. Die polisie het na verneem word ook skote afgevuur en die gewonde voortvlugtige is kort daarna in hegtenis geneem.

Nog twee mans is kort daarna in dieselfde omgewing aangekeer. Die gesteelde polisiedienspistool is ook in die bosse gevind.

* Luidens die polisieverklaring het Figo Madisha (35), Clifford Mutonhori (34) en John Fine (36) op Dinsdag 27 Julie in die Mokopane-hof verskyn op aanklagte van gewapende roof, asook die besit van ongelisensieërde vuurwapens en ammunisie.

’n Vierde verdagte, Frans Benge Baloyi (48), wat nie saam met die groep ontsnap het nie, het saam met hulle verskyn. Hierdie klagtes spruit uit voorvalle wat in April 2019 in die Modimolle-, Mookgophong-, Bela-Bela- en Mokopane-omgewing plaasgevind het.

Die mans is al vier vonnisse van minstens twintig jaar tronkstraf elk opgelê. ’n Vierde verdagte, Dennis Hove (39), ’n Zimbabwiër, is nog op vrye voet.

Lt.genl. Thembi Hadene, provinsiale polisiekommissaris, het in die mediaverklaring alle rolspelers bedank vir hul samewerking om hierdie mans aan te keer.

Lede van die gemeenskap is ook bedank vir hul volgehoue betrokkenheid en ondersteuning.

Related Articles

Back to top button