CrimeNews

Dit is nou genóég!

’n Groep mans wat vermoedelik motordeure in Mookgophong met ’n afstandbeheerknoppie oopmaak, het hul rieme op Saterdag 24 Julie styfgeloop.

Twee selfone is op Vrydag 23 Julie uit ’n bakkie in die parkeerterrein by die OK-sentrum in die dorp gesteel. Die OK se kringtelevisieopname het glo getoon hoe verdagtes, wat in ’n wit Kia Picanto ry, die selfone uit die bakkie steel.

Volgens Kobus van Loggerenberg, voorsitter van die AfriForum-buurtwag, is die voorval en die Kia se registrasienommer dadelik op sosialemediagroepe geplaas en die AfriForum-buurtwag het dit op hul landwye groep versprei.

Een van Mokopane se AfriForum-buurtwaglede het die motor die volgende dag op die N1-snelweg tussen Polokwane en Mokopane opgemerk en die polisie en ander buurtwaglede in kennis gestel.

Buurtwaglede, in samewerking met die polisie van Mokopane en ander veiligheidsrolspelers, het die voertuig opgespoor en die verdagtes is in hegtenis geneem.

Die een selfoon is glo in Mokopane verkoop en die ander een is teruggevind. Die vermeende bendelede is van Mokopane.

“Ons gemeenskappe is moeg vir die misdaadgolf wat oor die land spoel, maar deur paraat te wees, self te organiseer, saam te werk, gedissiplineerd op te tree en goeie kommunikasiekanale te vestig, maak ons ons eie woonbuurte veilig,” het Andries Opperman, streeksleier van AfriForum veiligheid, gesê.

Related Articles

Back to top button