CrimeNews

Onwettige grondbesetters gestuit

Owerhede en gemeenskapsleiers moes onlangs bontstaan om onwettige grondbesetters in die Spitskop-omgewing net buite Thabazimbi te stuit.

Afgevaardigdes van die Vryheidsfront-Plus (VF-Plus) in Thabazimbi, in samewerking met die gemeenskapspolisiëringsforum en Matlabas-plaaswag, het op Vrydag 2 Julie gereageer op ’n noodroep van besorgde inwoners wat verdagte bedrywighede op ’n kleinhoewe in die omgewing bespeur het.

Nicole Murray, verteenwoordiger van die VF-Plus, het aan Die Pos gesê hulle het ondersoek ingestel nadat besorgde inwoners ’n groot groep mense op die grond gewaar het.

“Volgens inligting, wat ons van ’n anonieme bron ontvang het, woon daar al ’n geruime tyd mense sonder toestemming op die terrein,” het Murray gesê.

Die eienaar van die grond woon en werk glo in Mahikeng (Mafikeng) en die grond is dus vir ’n geruime tyd reeds onbewoon.

Gerugte het die ronde gedoen dat mense wat op die terrein gesien is, T-hemde van die EFF (Economic Freedom Fighters) gedra het, wat inwoners laat spekuleer het dat dié politieke party ’n onwettige betreding georkestreer het.

Patrick Monaheng, leier van die EFF in Thabazimbi, het egter by navraag gesê die party is nie tans by enige onwettige grondbesettings in die Thabazimbi-omgewing betrokke nie.

“Ons weet nie waarom daar so ’n groot groep mense op die terrein teenwoordig was nie,” het,” het Murray gesê.

Volgens haar is die party ontevrede met die “trae manier” waarop die polisie die voorval haneer het. Sy het gesê polisiebeamptes was nie baie behulpsaam om ’n saak in dié verband te open nie en sy is meegedeel dat die eienaar van die grond self klagtes in dié verband moet lê.

Murray het gesê sy het daarna ’n afspraak met die stasiekommissaris gemaak en ’n gesprek met hom gehad, waarna hulle saam ’n besoek by die terrein afgelê het.

“Die grondeienaar is aangeraai om ’n hofbevel te bekom om die mense van die terrein te verwyder. In my laaste gesprek met hom, het hy aan my gesê dat hy in die proses is om dit te doen,” het Murray ter afsluiting verduidelik.

  • Die Pos het navrae oor die voorval aan die Thabazimbi-polisiestasie gerig, maar teen druktyd geen terugvoer ontvang nie.

Related Articles

Back to top button