CrimeNews

Plaaswerker geloof vir flinke optrede

’n Oplettende plaaswerker van Dinonyane Lodge naby Boekenhout-stasie buite Mookgophong, se optrede het grootliks bygedra tot die inhegtenisneming van ’n vermeende kabeldief.

Die Pos het onlangs berig oor dié man wat op Saterdag 26 Junie in hegtenis geneem is.

Louw Pretorius, ’n lid van AfriForum, het die plaaswerker se inligting opgevolg en daarna die vermeende kabeldief aangekeer. Die plaaswerker verkies om anoniem te bly.

Willie Venter, ’n boer in die omgewing, het aan Die Pos vertel dit is te danke aan die werker dat die vermeende dief gevang is.

“’n Boodskap is daardie oggend op ons Boekenhout-veiligheidsgroep gestuur dat ’n werker by Dinonyane Lodge ’n verdagte persoon gesien het wat kabels steel. Sowat ’n uur later is die boodskap op die veiligheidsgroep geplaas en nog hulp is van ander veiligheidsgroepe ingeroep,” het Venter gesê.

Volgens Venter het Pretorius eerste ge- reageer en het Venter hom versoek om die AfriForum-buurtwag in kennis te stel.

Die Nylsvley-veiligheidsgroep se spoorsnyers het gehelp om die verdagte se spoor te vat. Boere en ander lede van veiligheidsgroepe het orals bystand verleen en selfs mense wat van Pretoria af op pad was noorde toe, het stadig langs die N1-snelweg gery om te kyk of hulle die dief gewaar.

“Ons wou nog in die plaas spoorsny om hom te soek, toe bel Pretorius om ons in te lig dat die vermeende dief by die Lickos-brug, slegs ’n paar kilometer vanaf Mookgophong, aangekeer is. Hy het langs die N1 gestap en is vasgetrek deur Pretorius en lede van die veiligheidsgroep wat onder die brug die N1 gemoniteer het,” het Venter vertel.

Volgens Venter het die betrokke plaaswer- ker die oggend langs die treinspoor met sy fiets gery werk toe. Hy het die “kabeldief”, ook op ’n fiets, op sy pad gekry en langs hom gery en probeer om ’n gesprek met die vreemde man aan te knoop.

Die werker het ’n pap wiel gekry en moes noodgedwonge stilhou om eers die band te pomp. Die vreemde man wou egter nie wag nie en het net aanhou ry.

“Hy het agterna gesê hy het hom weer ingehaal om hul gesprek voort te sit, maar die man was onwillig en het weggejaag,” het Venter vertel.

Die werker het moed opgegee en is werk toe om met sy dagtake te begin. Hy het later die oggend langs die treinspoor naby die stasie gaan kyk vir sigaretstompies toe hy dieselfde man kry waar hy besig is om kabels te steel.

Hy het die man gevra waarom hy die kabels steel, waarop hy glo geantwoord het dat hy werkloos is en sukkel om sy gesin te versorg.

Die werker het teruggeloop en sy werkgewers by die lodge ingelig oor die diefstal. Hulle is saam terug na die plek waar die man steeds besig was. Toe hulle hom konfronteer, het hy die aangrensende plaas ingehardloop en sy fiets net daar gelaat.

“Nadat hy aangekeer is, het ons hom teruggeneem na die toneel en die werker kon hom herken. Ons het die kabels in sy rugsak gekry. Ons het ’n goeie beskrywing gehad en gelukkig was Pretorius daar, anders sou ons hom nie opgespoor het nie. Baie dankie aan Pretorius en AfriForum wat altyd bereid is om te help,” het Venter gesê.

Related Articles

Back to top button