CrimeNews

Vermeende Northam-verkragters lewenlange tronkstraf gevonnis

“Tien vroue is elke dag die slagoffers van verkragting in Limpopo.”

Dié skokkende syfers is reeds met die uitreik van die 2019-nasionale misdaadstatistieke bekend gemaak.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) kon vandeesweek nog ’n sege vier teen die bekamping van verkragting en geslagsgeweld in die provinsie.

Tumelo Mataboge (30) en Luckyboy Rapula Motlhomi (35) is in April 2019 aangekeer en aangekla van die verkragting van ’n 35-jaar oue vrou van Northam. Die twee is verlede Donderdag 24 Junie tot lewenslange tronkstraf vir dié misdaad gevonnis.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die SAPD in Limpopo, is die twee laat die aand vasgetrek op ’n afgesonderde deel van die R510 nadat hulle na bewering van die toneel weggejaag het en deur polisielede van die pad af getrek is.

“Die omgewing waar die SAPD-lede patrollie gery het, is berug vir soortgelyke voorvalle en word daarom daagliks besoek,” het Majapelo verduidelik.

“Die slagoffer het langs die pad gewag vir ’n saamrygeleentheid toe die twee mans langs haar stilgehou en haar opgelaai het. Hulle het na bewering afgedraai op ’n verlate pad waar hulle haar met ’n vuurwapen gedreig en om die beurt verkrag het,” het hy verder gesê.

Lt. genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die vonnis verwelkom en gesê dit is ’n groot sege vir die polisie.

“Hierdie vonnisse versterk ons in die geveg teen geslagsgebasseerde geweld,” het hy verduidelik.

Hadebe het ook lof uitgespreek teenoor die lede van die SAPD in Northam en bygevoeg dat dit danksy hul flinke reaksie is dat dié twee misdadigers agter tralies is.

“Ons is vasbeslote om geweld teen vroue en kinders, en veral verkragting in Limpopo, heeltemal in die kiem te smoor en ons glo dat vonnisse soos hierdie ’n stap in die regte rigting is,” het Hadebe afgesluit.

Related Articles

Back to top button