CrimeNews

Minderjarige glo verantwoordelik vir man se dood

’n Minderjarige seun van die Bela-Bela-township moet eersdaags in die hof verskyn nadat hy by ’n moord betrek is.

Dit is die tweede voorval die laaste paar weke waar ’n minderjarige vermoedelik betrokke was by die dood van iemand.

Die eerste voorval het sowat twee weke gelede by ’n sjebien plaasgevind waar ’n minderjarige ’n man glo met ’n skerp voorwerp doodgesteek het.

Die Pos mag ingevolge wetgewing nie minderjarige beskuldigdes se name bekend maak nie.

Volgens ’n polisiewoordvoerder was die slagoffer in die nuutste voorval, Kabelo Maluleka (30), die afgelope naweek op pad om melk te gaan koop toe hy deur ’n minderjarige oorval is.

Daar was glo nog mense by die voorval betrokke. Maluleka is volgens die polisie met ’n glasbottel en ’n ystervoorwerp oor die kop geslaan.

Die verdagtes het Maluleka van sy drie sakkies nyaope, kontant en sy twee selfone beroof voordat hulle gevlug het.

Maluleka is in die Warmbad-hospitaal opgeneem vir behandeling en dieselfde dag ontslaan, maar is die volgende dag oorlede.

Die minderjarige is kort ná sy dood aangekeer en van moord aangekla.

Die minderjarige is oorgeplaas na ’n rehabiltasiesentrum vir minderjarige oortreders en sal na verwagting op Woensdag 7 Julie in die hof verskyn.

Related Articles

Back to top button