CrimeNews

Vermeende veediewe verskyn in hof

Die polisie se veediefstaleenheid in Modimolle het die afgelope maand ’n deurbraak gemaak in die stryd om veediefstal in die Waterberg-omgewing te stuit.

Hannes Wagner (37) en Elias Eddy Mafafo (50) is begin Junie onderskeidelik in Springs en Bela-Bela aangekeer.

Volgens ’n polisiewoordvoerder word die mans verbind met ’n veediefstalsaak wat in die Langkuil-omgewing buite Bela-Bela plaasgevind het.

Luidens die klagstaat is 14 beeste met ’n geraamde waarde van R186 00 gesteel. Die ondersoekspan het die beeste in Gauteng opgespoor.

Die trok waarmee die beeste glo vervoer is, is ook opgespoor. Wagner het aanvanklik in Springs in die hof verskyn, maar sy saak is later na die Bela-Bela-landdroshof oorgeplaas.

Wagner en Mafafo sou weer op Dinsdag 22 Junie in die hof verskyn het vir Wagner om ’n borgtogaansoek te bring.

Mafafo, wat van die Mookgophong-omgewing afkomstig is, het aangedui dat hy vir regshulp wil aansoek doen. Albei mans was teen druktyd vandeesweek steeds in aanhouding.

Die polisie ondersoek intussen die moontlikheid dat die verdagtes met ander veediefstalvoorvalle in die omgewing verbind kan word.

  • Lede van die Bosveld Misdaad Ondersoeke-span en Senyaka Nyaka Sekuriteit in Mookgophong, het in samewerking met die Modimolle-polisie se veediefstaleenheid, in 2020 ’n sindikaat oopgevlek wat vermoedelik by verskeie veediefstalsake in die Mookgophong-omgewing betrokke was.

    Volgens Apie Lewies, ’n boer van die omgewing, het hy en ’n ander boer, Gerhardus Brits, in 2020 altesame 45 beeste verloor.

    Van die beeste is op die plase geslag en vyf is op ’n veiling in Northam gevind waar dit te koop aangebied is.

    “Op een plaas is 13 beeste op een slag gebuit,” het Lewies gesê.

    Die afgelope week is verdere inligting bekom wat daartoe gelei het dat daar in Nigel op vermoedelik gesteelde beeste beslag gelê is. Vyf mense is in hegtenis geneem waarvan een in Mookgophong aangekeer is.

    Vier ander prominente lede van die vermeende sindikaat is volgens Bosveld Misdaad Ondersoeke in die Nigel/Heidelberg-omgewing aangekeer.

    Die sindikate beplan vermoedelik die veediefstalle, vervoer die gesteelde beeste en bied dit dan elders op veilings aan niksvermoedende kopers.

    Plekke wat veral deurgeloop het, is Bochum, Tolwe, Baltimore, Lephalale, Westenburg, Mokopane, Immerpan, Zebediela, Mooketsi, Roedtan, Crecy, Tuinplaas, Mookgophong, Bela-Bela en Cullinan. Die ondersoek duur voort en volgens ’n polisiewoordvoerder kan verskeie inhegtenisnemings volg.

Related Articles

Back to top button