CrimeNews

Oproeriges versper Alma-pad buite Bela-Bela

Die Alma-pad buite Bela-Bela was verlede week die middelpunt van oproerigheid nadat ontevrede inwoners die pad met rotse versper het.

Dié oproerigheid spruit na verneem word uit ontevredenheid van inwoners van Spa Park en Koppewaai omdat hulle nie in aanmerking geneem is vir werkgeleenthede by twee opgraderingsprojekte in die omgewing nie.

Die betrokke projekte is die opgradering van ’n brug na die Roodepoort-kleinhoewes en die ander is die opgradering van die ou Warmbad-dam op die Alma-pad buite Bela-Bela.

Die brugbouprojek word befonds deur die Limpopo-padagentskap (RAL) en die dam-opgradering deur ’n regeringstoelae. Die dam-projek het reeds in 2020 afgeskop.

Volgens Keenan Alberts, gemeenskapsleier, is plaaslike inwoners ontevrede omdat hulle nie deur die kontrakteurs genader is om vir werk aansoek te doen nie en het die kontrakteurs glo verkies om werkers van elders in diens te neem.

Lede van die gemeenskap het op Woensdag 16 Junie (Jeugdag) opgeruk en die ingang van Spa Park met voorwerpe bestrooi en brande gestig.

Die Alma-pad is op Vrydag 18 Junie met rotse versper. Die polisie was op die toneel, maar niemand is sover vasgestel kon word in hegtenis geneem nie.

Kol. Pule Moselane, hoof van sigbare polisiëring van die Bela-Bela-polisie, het by navraag gesê vergaderings tussen die betrokke partye het intussen plaasgevind.

’n Lys van voornemende werksoekers sal saamgestel word en dan deur Wyk 9 se raadslid, Boetie Maname, en burgemeester, Jeremia Ngobeni, aan die kontrakteurs verskaf word vir oorweging, het Moselane gesê.

Gemoedere het intussen afgekoel en inwoners wag angstig vir die kontrakteurs se finale besluit.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het in reaksie gesê die behoefte vir werkskepping verskil by elke plaaslike opgraderingsprojek.

“Van die kontrakteurs verkies soms gespesialiseerde werkers om sekere take te verrig, pleks daarvan om mense sonder vaardighede in diens te neem,” het hy gesê.

“Dié projekte word nie uit munisipale fondse befonds nie, maar ons hou die situasie dop,” het hy benadruk.

Related Articles

Back to top button