CrimeNews

Misdaad neem toe

Inwoners van Bela-Bela moet meer op hul hoede wees vir misdadigers.

Volgens inligting van die Bela-Bela-polisie, wat op Woensdag 9 Junie tydens die maandelikse plaaslike veiligheidsvergadering bekend gemaak is, het inbrake en oortredings waar noodsaaklike infrastruktuur gesteel word, toegeneem.

Huishoudelike inbraak- en diefstalgevalle het in Chris Hani-, Van der Walt-, Mentz-, Swanepoel-, Ludorf-, Soetdoring- en Katjiepieringstraat voorgekom.

Eiendomme langs die R101-pad na Modimolle en die Eersbewoond-pad het ook onder diewe deurgeloop.

Volgens die woordvoerder is daar ook verskeie inbrake in natuurreservate aangemeld.

Die Settlers-gebied is veral geteiken en daar is verskeie gevalle aangemeld waar transformators en kragkabels gesteel is. Hierdie soort diefstalle val onder noodsaaklike infrastruktuur en die vonnisse vir sulke oortredings is swaarder as vir gewone huisbrake en diefstal.

Die polisie skryf die skielike styging in misdaad toe aan geleentheidsmisdaad en in sommige gevalle dwelmverslawing.

Die swak ekonomiese omstandighede en hoë werkloosheidsyfer dra by tot die styging in misdaad.

Die eienaars van die Ronwil-vakansieoord net buite Bela-Bela was verstom toe hulle in Mei ’n verdagte op heterdaad betrap het wat kragkabels met ’n gewone kombuismes wou stroop. Die verdagte is volgens die polisie ’n bekende wat al tevore van soortgelyke misdade aangekla is.

Tydens sy inhegtenisname is spuitnaalde in sy besit gevind wat daarop dui dat hy waarskynlik ’n dwelmgebruiker is, het die polisie gesê. Die man is steeds in aanhouding. Sy borgtogaansoek is verwerp en die saak word verder ondersoek.

Die polisie waarsku inwoners in die omgewing om hulself en hul eiendom te beskerm en hekke en deure gesluit te hou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button