CrimeNews

Man doodgesteek ná twis oor bier

’n Jong man van die Leseding-uitbreiding in die Bela-Bela-township is in groot moeilikheid nadat hy na bewering ’n 27-jarige man by ’n sjebien met ’n mes doodgesteek het.

Die verdagte is 17 jaar oud.

Volgens sers. Frans Maponya, polisiewoordvoerder, het die voorval op Woensdag 9 Junie om ongeveer 20:00 plaasgevind.

Die 17-jarige en die slagoffer het volgens ooggetuies glo oor ’n bier baklei.

Die woordewisseling het al erger geraak en aanleiding tot die messtekery gegee, het Maponya gesê.

Die slagoffer is na die Warmbad-hospitaal gehaas, maar hy is oorlede. Sy naam is nie bekend gemaak nie.

Die polisie het die verdagte opgespoor en aangekla van moord. Die mes wat in die voorval gebruik is, is in sy besit gevind, het Maponya gesê.

Die verdagte het op Vrydag 11 Junie in die Bela-Bela-landdroshof verskyn. Sy naam mag ingevolge wetgewing nie bekendgemaak word nie omdat hy minderjarig is.

Volgens die hofrekords is die verdagte se saak uitgestel na Donderdag 24 Junie vir die senior aanklaer om oor verdere stappe te besluit.

Die 17-jarige is intussen oorgeplaas na ’n korrektiewe fasiliteit vir jeugoortreders in Polokwane.

Related Articles

Back to top button