CrimeNews

Swendelaar in Waterberg doenig

’n Eiendomsagentskap van Mookgophong het vandeesweek privaat huisverkopers en ander eiendomsagente in die Waterberg gewaarsku teen ’n man wat hom voordoen as ’n koper en dan nooit met die geld vorendag kom nie.

Volgens Nico en Marie Kruger van die Proprite-agentskap nader dié middeljarige man agente en privaat huisverkopers om kastig hul eiendomme te koop.

Sy modus operandi is om voor te gee dat hy eiendomme kontant wil koop, maar dat hy dringend die eiendom wil okkupeer.

Hy vertel glo graag hy is besig is om verskeie eiendomme te koop.

Marie het aan Die Pos gesê die man kom heel professioneel voor en dat dit op die oog af lyk asof hy geld het om vir die eiendomme te betaal.

“Dan volg daar verskeie verskonings oor bewys van geld wat nie dadelik gelewer kan word nie en ook tientalle verskonings waarom geld nie teen die sperdatum beskikbaar is nie,” het sy aan Die Pos gesê.

Nadat sy inligting oor die man op sosiale media versprei het, het verskeie ander agente in Mookgophong gesê hulle het soortgelyke stelle met die man afgetrap.

“Dit veroorsaak baie ongerief en spanning en hy het op ’n paar plekke ingetrek en moes later met ’n uitsettingsbevel verwyder word. Hierdie man is ’n swendelaar en hy gaan nóg mense aan die neus lei as hy nie vasgetrek word nie,” het sy gesê.

“Ons omgewing het nie sulke uitbuiters nodig nie. Wees maar versigtig,” het die egpaar aan Die Pos gesê.

Mense wat soortgelyke stelle afgetrap het of navrae het, kan vir Nico Kruger bel by tel. 082 576 2999.

Related Articles

Back to top button