CrimeNews

Skok nadat babalykie op ashoop gevind word

Inwoners van Northam, net buite Thabazimbi, is geskok nadat die lykie van ’n baba op ’n ashoop ontdek is.

Dié grusame ontdekking is gemaak deur ’n inwoner wat tussen die vullis langs die pad gekrap het op soek na herwinbare materiale.

Volgens lt.kol. Mamphaswa Seabi is daar nog geen duidelikheid oor die omstandighede rondom die voorval nie.

“Hierdie soort sake is uiters moeilik en delikaat, aangesien ons baie op ooggetuies aangewese is om inligting te verskaf om moontlike leidrade op te volg” het hy verduidelik.

Seabi het verder verduidelik dat verskeie soortgelyke gevalle in die verlede aangemeld is.

Volgens die polisie hou dié sake dikwels verband met tienerswangerskappe of prostitusie.

Daleen Delport, maatskaplike werker van Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF), sê daar is hoop vir ongehude moeders en hul babas. Hulle moet by hul naaste welsynsorganisasie of polisiestasie aanklop vir hulp.

Die baba, wat op Donderdag 27 Mei in ’n plastieksak gevind is, het erge brandwonde op die rug en beentjies gehad. Die Thabazimbi-polisie het die hulp ingeroep van die forensiese afdeling en hul speurtak volg alle leidrade op. Die oorskot is na die forensiese patologie afdeling in Bela-Bela geneem vir verdere toetse.

Die polisie doen ’n beroep op enigeen wat inligting oor die voorval het, om die speurtak te skakel by tel. 082 758 1428 of tel. 082 565 7611.

Daleen Delport, ’n maatskaplike werker by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF), het die voorval as uiters ontstellend beskryf en verduidelik dat sulke voorvalle normaalweg uit desperaatheid ontstaan.

“Dit gebeur dikwels dat die ma’s van ’n pasgebore baba in sulke omstandighede geen ander uitweg sien as om haar baba “weg te gooi nie”.

Sy sê baie van dié gevalle is die resultaat van ’n ongewenste tienerswangerskap of ’n desperate poging van ’n ma wat andersins nie vir haar kind kan sorg nie.

“Dit hoef egter nie so te wees nie,” maan sy. “Dit is deesdae moeilik vir jong mense om kop bo water te hou. As daar boonop nog ’n baba op pad is, word die situasie aansienlik erger,” sê Delport.

“Daar is soveel ander opsies om babas veilig te versorg dat dit nie eens in iemand se verwysingsraamwerk moet wees om ’n baba te verwerp nie.”

Volgens Delport word baie jong meisies, of verkragtingslagoffers, gekonfronteer met die gedagte dat mense hulle sal veroordeel of verstoot wanneer hulle swanger raak.

Dit is dikwels hierdie desperate gevoel van verwerping wat jong meisies lei om die onbesonne besluit te neem om hul babas te verwerp. In ander gevalle is ’n vrees vir vervolging ook ’n groot motivering vir meisies in hierdie omstandighede.

“Soms word prostitute vervolg en daarom voel baie van hulle dat hulle geen ander heenkome in sulke gevalle het nie.”

“Die waarheid is egter dat daar baie hoop is. Meisies moet vroeg geleer word dat daar baie instansies is waar jy eerder jou kind kan afgee, sonder die vrees vir oordeel of vervolging,” het sy gesê.

In die Thabazimbi-omgewing is daar organisasies soos Abba Adoptions, die SAVF en selfs verskeie klinieke wat gereed staan om vroue en meisies wat hulself in sulke omstandighede bevind, te help.

“Ons almal het ’n reg tot ’n veilige, gesonde en gelukkige lewe en ons het die verantwoordelikheid om dit ook vir ons kinders te bied,” het Delport gesê.

  • Die nasionale media het vandeesweek berig dat daar drie fetusse binne een week in Gqeberha (Port Elizabeth) gevind is — een by ’n stortingsterrein, een in ’n afgeleë veld en nog een by die dorp se watersuiweringswerke.

Related Articles

Back to top button