CrimeNews

Man doen hom glo voor as SAPD-lid

’n Verdagte het op Vrydag 21 Mei in die Thabazimbi-landdroshof verskyn nadat hy homself glo as ’n polisiebeampte voorgedoen het.

Luidens ’n verklaring van die provinsiale polisie is die verdagte, Helly Mathebula, in die Hoopdal-gebied buite Thabazimbi in hegtenis geneem nadat hy homself in die Skierlik-nedersetting as ’n polisiebeampte voorgedoen het by ’n plaaslike sjebien.

Mathebula is saam met vier ander mans vasgetrek nadat hulle glo in ’n Volkswagen Polo van die toneel probeer vlug het.

’n Lid van die publiek het snuf in die neus gekry en die polisie gekontak.

Die polisie het die voertuig deursoek en afgekom op ’n polisie-koeëlvaste baadjie, ’n polisiebroek en gordel, twee konstabelrangkentekens, ’n 9 mm-pistool, een magasyn, agt patrone en ’n glimbaadjie. Die polisie het daarop beslag gelê en die voertuig geskut.

Luidens die verklaring is die vier ander mans intussen vrygelaat. Mathebula verskyn alleen op die aanklagte van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, ammunisie, die besit van vermoedelik gesteelde eiendom, dronkbestuur en dat hy homself voorgedoen het as ’n polisiebeampte.

Borgtog van R1 000 is aan hom toegestaan en hy is vrygelaat.

Die saak is uitgestel na Dinsdag 6 Julie vir verdere ondersoek.

Related Articles

Back to top button