CrimeNews

Man in hospitaal ná rooftog in Bela-Bela

Twee mans van Bela-Bela is op Maandag 10 Mei in die omgewing van KFC in Chris Hani-straat van ’n groot bedrag geld beroof terwyl hulle onderweg was na ’n bank waar hulle die geld wou deponeer.

Volgens sers. Frans Maponya, polisiewoordvoerder, het die mans die kontant in twee swartsakke na die bank geneem.

“Twee verdagtes het hulle genader en ’n vuurwapen op hulle gerig waarna die rowers die sakke gegryp en met die kontant gevlug het,” het Maponya gesê.

Lede van die gemeenskap het die verdagtes tot by die Bosveld Mall gevolg en hulle deurgaans dopgehou totdat die polisie op die toneel was.

Die verdagtes het vermoedelik snuf in die neus gekry en in twee verskillende rigtings op die vlug geslaan — een het terug na die sentrale sakesektor beweeg en die ander een het in die veld agter die inkopiesentrum probeer skuil.

Een verdagte is deur inwoners vasgekeer en die polisie het hom in hegtenis geneem. Die polisie het ’n vuurwapen in sy besit gevind. Die ander verdagte het weggekom.

Volgens Maponya is daar by nadere ondersoek vasgestel dat ’n speelgoedgeweer in die rooftog gebruik is. Die kontant is egter nie teruggevind nie.

Hoewel die presiese detail rondom die inhegtenisname van die verdagte nog onduidelik is, is daar op ’n onlangse veiligheidsvergadering genoem dat die verdagte in die hospitaal is weens beserings wat hy opgedoen het.

Volgens Maponya sou die verdagte verlede week in die hof verskyn het. Navrae by die hof dui daarop dat die verdagte se saak nooit op die hofrol geplaas is nie en dat hy nog moet verskyn.

Lt. kol. Richard Makhukhu, speurtakhoof, het by navraag bevestig dat die verdagte sy geskeduleerde hofverskyning misgeloop het omdat hy steeds in die hospitaal is.

Sodra die verdagte ontslaan word, sal hy na verwagting op aanklagte van roof en die besit van gesteelde eiendom in die hof verskyn.

  • Die ondersoek in verband met die menslike skedel wat begin April in die Eersbewoond-omgewing gevind is, duur voort. Die skedel is deur plaaswerkers wat besig was met roetine-onderhoudwerk, in ’n stuk veld gevind.

Volgens Maponya is die polisie se honde-eenheid ingeroep en het hulle later ook op ’n ontbinde liggaam afgekom.

Die liggaam is geïdentifiseer as dié van Jennipher Maphondo, ’n Zimbabwiër wat in die Bela-Bela-township gewoon het.

“Sy is laas gesien toe ’n onbekende man vir haar werk op ’n reservaat in die omgewing aangebied het,” het Maponya gesê.

Dit is ook daar waar haar liggaam gevind is. Die ondersoek duur voort.

Related Articles

Back to top button