CrimeNews

Buurtwag gee verdagte ’n ‘bloedneus’

Die oplettendheid en vinnige optrede van die AfriForum-buurtwaglede in Mookgophong het daartoe gelei dat ’n vermeende motordief sy Moses teëgekom het.

Volgens Kobus van Loggerenberg, voorsitter van die buurtwag, het hy op Sondag 16 Mei omstreeks 09:00 inligting ontvang dat ’n voertuig in Modimolle gesteel is en in die rigting van Mookgophong beweeg.

“Ek het dit aan die buurtwag deurgegee en een van die lede het die bakkie by ’n vulstasie opgemerk en my daarvan verwittig. Ek het dadelik gereageer en die polisie is in kennis gestel. AfriForum se buurtwaglede het die verdagte in hegtenis geneem en aan die polisie oorhandig,” het Van Loggerenberg aan Die Pos vertel.

“Ons was besig met patrollie en het gesien hoe die bakkie by die vulstasie intrek en brandstof ingooi. Ek en my gesin het die registrasienommer herken en Kobus gebel. Ons het die verdagte dopgehou totdat die polisie en Van Loggerenberg opgedaag het,” het die buurtwaglid, wat anoniem wil bly, gesê.

Volgens Adil Bera, eienaar van die wit Toyota dubbelkajuitbakkie wat gesteel is, het sy werker om 07:00 aangemeld vir diens. Bera het ongeveer 08:00 na sy ouers se huis gegaan om vir hulle ontbyt te maak en by sy terugkoms, sowat ’n uur later, het hy gemerk die voertuig is weg.

“Ek het dadelik opgemerk dat die hek oopstaan en dat die bakkie weg is,” het Bera gesê.

Hy het ondersoek ingestel en gevind dat die agterdeur van sy huis oopgebreek is en dat sy selfoon en skootrekenaar weg is.

Die betrokke voertuig se sleutels was in die huis terwyl hy by sy ouers was. Bera kon die man op sy kringtelevisiekameras identifiseer en Modimolle se straatkameras het gewys dat hy in die rigting van Mookgophong beweeg.

Volgens Van Loggerenberg het ander getuies vertel dat hulle die voertuig in Sektor 1 in Mookgophong opgemerk het en dat die skootrekenaar daar vir brandstofgeld verkwansel is.

Bera het gesê die man is ’n Zimbabwiese burger wat eers onlangs by hom begin werk het.

“Samewerking en die vinnige deel van inligting is noodsaaklik in ons poging om misdaad suksesvol te bekamp. Misdadigers beweeg blitsvinnig van een dorp na ’n volgende dorp. Tyd kan nie gemors word om eers kontakpersone na te speur nie, daarom is dit belangrik dat gemeenskappe saamwerk en ’n netwerk vorm,” het Van Loggerenberg gesê.

Andries Opperman, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder in Limpopo, het die buurtwag bedank en gesê:

“Die vinnige optrede van die buurtwag en die feit dat die gemeenskap dadelik die buurtwag gekontak het, wys daarop dat die gemeenskap hierdie buurtwag vertrou en dat hulle paraat is om bystand te lewer in geval van nood. So help mense van buurdorpe mekaar.”

Om betrokke te raak by AfriForum se buurtwag in Mookgophong, laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).

Related Articles

Back to top button