CrimeNews

Kuberkrakers onderskep sakeonderneming se e-posse

Die Thaba Kwena-krokodilplaas buite Bela-Bela is in April drie keer deur kuberkrakers geteiken wat hul e-posse onderskep en derduisende rande wat aan diensverskaffers betaal is, op dié manier onderskep het.

Die voorvalle het onderskeidelik op 1, 15 en 28 April plaasgevind.

Volgens die Thaba Kwena-bestuurspan is daar kwotasies van verskillende diensverskaffers aangevra om toerusting of dienste aan die krokodilplaas te lewer. Sodra die verskaffer die faktuur vir betaling aan Thaba Kwena gestuur het, het kuberkrakers vermoedelik die e-posse onderskep.

Klein verskille in byvoorbeeld die e-pos-adresse waarheen die bewyse van betalings gestuur moes word of bankbesonderhede het in die fakture opgeduik, maar dit was nie ooglopend nie.

Die bestuurspan het aanvanklik twee betalings na die aangepaste bankbesonderhede gemaak, minwetend dat hulle betalings aan die aanlynskurke gemaak het. Toe die toerusting of dienste nie opgedaag het nie en die verskaffers aangedui het dat hulle geen bewys van betaling ontvang het nie, is die polisie se hulp dadelik ingeroep, het ’n woordvoerder van Thaba Kwena aan Die Pos gesê.

Tydens die derde soortgelyke poging tot aanlynbedrog het personeellede die verskille in die besonderhede raakgesien en dadelik alarm gemaak. Betalings en bankrekeninge is gestop en ander reëlings is met dié betrokke diensverskaffer getref.

Die derde poging tot kuberdiefstal is betyds gekeer, maar Thaba Kwena sê hulle het toe reeds niksvermoedend sowat R150 000 aan internetskurke oorbetaal. Die bedrog het gelukkig geen invloed op Thaba Kwena se daaglikse bestuur nie en sal nie die gewone toerismeprogramme raak nie.

Die bestuur het aangedui dat hulle nou meer op hul hoede is en hul rekenaarstelsels en aanlynsekuriteitprogramme is opgedateer. Hulle vertrou die polisie sal spoedig die skurke vastrek. Die bestuur waarsku ander sakeondernemings om elke betaling en e-pos tussen ontvanger en diensverskaffer goed na te gaan en dadelik navraag te doen as iets vreemd lyk.

  • Adolph Vosloo, eienaar van Belanet in Bela-Bela, het raad gegee aan mense om te sorg dat hul e-posse nie gekaap word nie.

Aanlynbedrog dui daarop dat kuberkrakers êrens die onderneming se wagwoorde of persoonlike inligting van die personeel bekom het en toegang tot hul stelsel misbruik, het hy gesê.

“E-poswagwoorde word onderskep deur sogenaamde “spoofing” of “phishing”-metodes,” het hy gesê.

’n Tipiese voorbeeld is wanneer mense ’n verdagte e-pos ontvang, dit oopmaak of die aanhangsel binne die e-pos oopmaak, waarna ’n virusprogram geaktiveer word en sodoende bekom die kuberkraker toegang tot die persoon se rekenaar.

“Die verdagtes gebruik die persoon se wagwoord en teken dan deur die e-posstelsel in die maatskappy se bankstelsel in. Hulle kan dan sensitiewe e-posse soos fakture en bankbesonderhede nagaan,” het Vosloo gesê.

Sy raad aan mense om hulself teen kuberbedrog te beskerm is:

  • Gebruik sterker wagwoorde: Gebruik ’n ingewikkelde wagwoord om op jou e-pos in te teken indien jy meer as een e-posadres het. Moenie dieselfde wagwoord vir alle aanlynrekeninge gebruik nie.
  • Verander jou wagwoord gereeld.
  • Maak seker dat die rekenaar ’n ordentlike antivirusprogram bevat met ’n geïntegreerde virusfunksie (firewall) wat dadelik verdagte aktiwiteit kan opmerk. Wees waaksaam vir gratis anti-virusprogramme wat afgelaai kan word.
  • Maak seker jou e-posse bevat sertifisering wat die aanlyndomein, verbruiker en die betrokke rekenaar as ’n wettige entititeit beskryf.

Vermy konvensionele poortnommers op jou e-posprogramme.

’n Lys van hierdie uitbreidings kan gevind word op die webwerf: www.dummies.com/programming/networking/commonly-hacked-ports/

  • Ondersoek alternatiewe maniere om fakture aan verskaffers te stuur soos deur byvoorbeeld aanlyn-faktueringsdienste.

Related Articles

Back to top button