CrimeNews

Vermeende kabeldiewe in Modimolle vasgetrek

Die beskadiging en diefstal van koperkabels en kragtoevoerinfrastruktuur is ’n alledaagse verskynsel en inwoners word versoek om enige verdagte aktiwiteite dadelik onder die polisie of buurtwag se aandag te bring.

Volgens AO James Findlay, polisiewoordvoerder, het die Modimolle-polisie op Woensdag 21 April nuttige wenke by ’n informant gekry oor vermeende kabeldiewe se bedrywighede in die omgewing. Die inligting het gelei tot die inhegtenisname van twee verdagtes.

Joseph Galone, ’n 50-jarige man van Phagameng in Modimolle, is in hegtenis geneem weens die besit van vermoedelike gesteelde eiendom.

Koperkabels ter waarde van R20 000 is volgens die polisie in sy woning gevind. Galone het tydens ondervraging die polisie gelei na ene Dikgala Mahoba (33), ook van Phagameng, wat glo die kabels aan hom verkoop het.

Mahoba is dieselfde dag in hegtenis geneem en aangekla van diefstal.

Volgens Findlay kan verdere inhegtenisnemings verwag word, want kabeldiewe maak meestal gebruik van ’n uitgebreide netwerk mense vir die skoonmaak van kabels, smelt en verkoop van die koper.

Die ondersoek duur voort terwyl die polisie ook probeer vasstel waar die betrokke kabels gesteel is.

Volgens Findlay besoek polisiebeamptes weekliks plekke wat skrootmetaal koop en verkoop, asook pandjieswinkels in die Modimolle-omgewing om te verseker dat ongerymdhede nie daar plaasvind nie.

Galone en Mahoba het op Donderdag 22 April in die Modimolle-streekshof verskyn.

Die volgende verhoordatum was teen druktyd nog nie bekend nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button