CrimeNews

Trok tref motorbestuurders buite voertuie

Twee mans is op Saterdag 24 April op die N1-snelweg dood nadat ’n swaarvoertuig hulle langs die pad getref het.

Volgens sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het die voorval om 05:00 plaasgevind toe die bestuurders van ’n wit Ford Ranger en groen Isuzu-bakkie langs die pad stilgehou het. Die Ford het die Isuzu gesleep. Albei voertuie was binne die geel lyn geparkeer.

“Die twee bestuurders het vermoedelik uit hul voertuie geklim om met mekaar te praat toe die trok hulle getref het.”

Albei mans is op die toneel oorlede.

Die bestuurder van die Ford se vrou en kind was in die voertuig toe die ongeluk gebeur het, maar hulle het geen beserings opgedoen nie, het Maponya gesê.

Die trokdrywer was volgens die polisie op pad om koerante in die noorde van Limpopo af te lewer.

’n Saak van strafbare manslag word ondersoek. Niemand is egter aangekla nie. Die oorledenes is albei van die Venda-omgewing.

  • Volgens Maponya het twee ander ongelukke op die R516-pad naby Settlers plaasgevind. ’n Bestuurder van ’n silwer Fiat het op Sondag 18 April om 07:00 by die ingang na die Bela-Bela-township stilgehou en is deur ’n trok getref. Die bestuurder, Sello Mokwena, is volgens die polisie op die toneel oorlede.

    Die bestuurder van ’n wit Toyota Yaris het ook op Saterdag 24 April beheer oor die voertuig verloor en dit het op die R516 omgeslaan. Volgens Maponya het die bestuurder op die toneel gesterf. Die polisie ondersoek in albei voorvalle sake van strafbare manslag.

Related Articles

Back to top button