CrimeNews

Bela-Bela-inwoners moet ligloop vir booswigte

Die Bela-Bela-polisie het hul hande vol met huisbrekers.

Volgens ’n woordvoerder van die Bela-Bela-polisie het diefstal en inbrake skielik in April in Katjiepiering- en Huilboslaan toegeneem.

Daar is die afgelope ruk drie diefstalvoorvalle net in Katjiepieringlaan aangemeld.

Die eerste voorval was aan die begin van April toe diewe ’n hekmotor gesteel het. Ongeveer ’n week later het diewe by ’n woonhuis ingebreek en ’n skootrekenaar, televisie, videospeletjies en klanktoerusting gebuit.

Die afgelope naweek was inwoners in rep en roer nadat booswigte iewers tussen Vrydag 16 April en Saterdag 17 April by ’n venster ingebreek het terwyl die huiseienaars geslaap het.

Hulle het twee voertuie en ’n beursie gebuit. Die eienaars het eers die volgende oggend onraad gemerk en die polisie van die voorval in kennis gestel.

Die een voertuig, ’n wit Toyota Corolla, is in Kareestraat, sowat ’n blok verder, gevind. Die ander voertuig, ’n blou Toyota Corolla, is later in Soshanguve, Pretoria, opgespoor, het die polisie gesê. Die polisie kon nie teen druktyd sê of iemand al in hegtenis geneem is nie.

Volgens inligting van die plaaslike gemeenskappolisiëringsforum (GPF) is diefstalle ook verlede week in Noodhulp en Roodepoort aangemeld, asook in Van Staden- en Van der Merwestraat en Kretzschmarlaan.

Die diefstal van treinspoorkabels is ook in Tweefontein naby die Tsakane-nedersetting aangemeld. Volgens die polisie ondersoek hulle ook ’n diefstalsaak in Langkuil in die Radium-omgewing. Die Warmbad-rolbalklub het ook verlede week onder inbrekers deurgeloop.

Fanie Rossouw, klubvoorsitter, het aan Die Pos gesê skade beloop ongeveer R20 000.

Hy en die bestuurslede is baie beïndruk met die lede van die PRSS-veiligheidsonderneming se flink optrede.

PRSS het die klub intussen gratis van ’n alarmstelsel voorsien om verdere inbrake te voorkom, het Rossouw gesê.

Die polisie doen ’n beroep op die gemeenskap om enige verdagte aktiwiteite by die polisie of hul naaste buurtwag aan te meld.

Related Articles

Back to top button