CrimeNews

Nagmerrie-ervaring toe ambulans oor skerp voorwerp op snelweg ry

’n Bekende inwoner van Modimolle verwerk nog die skok ná ’n voorval op die N1-snelweg toe die ambulans wat hom na ’n hospitaal in Pretoria vervoer het, se bande beskadig is toe daar oor skerp voorwerpe op die teerpad gery is.

Die voorval het volgens ingeligte bronne tussen die Murrayhill- en Wallmansthal-afrit plaasgevind. Die Pos berig al jare lank oor dié gevaarlike plek waar booswigte skerp voorwerpe op die pad plaas en motorryers wat van die pad trek weens die skade, beroof.

 

Hoffie Hofmeister (82), ’n bekende fotograaf van Modimolle, het ’n nagmerrie-ondervinding beleef toe die ambulans waarin hy na ’n Pretoriase hospitaal vervoer is, oor skerp voorwerpe op die N1-snelweg gery het. Drie bande is beskadig, maar die ambulanspersoneel het kop gehou en stadig aanhou ry tot waar dit veilig was om stil te hou.

 

Hoffie Hofmeister (82), ’n afgetrede inwoner en bekende fotograaf van Modimolle, het Vrydagaand 9 April by sy huis in die dorp geval en ’n kopwond opgedoen. Hy is daarna in die Phodi-kliniek in Bela-Bela vir behandeling opgeneem, maar daar is besluit om hom liefs na ’n hospitaal in Akasia, Pretoria, oor te plaas.

Hofmeister het aan Die Pos gesê die oorplasing het geskied nadat die aandklokreël ingetree het.

“’n Netcare-ambulans het my ná middernag opgelaai. Ons was teen omstreeks 00:45 verby Hammanskraal, toe die ambulans skielik begin swaai en ek is agter in die ambulans rondgegooi.”

Hofmeister het gesê drie van die ambulans se bande is tydens die voorval beskadig.

“Die bestuurder het nie dadelik stilgehou nie, maar aanhou ry op die vellings tot waar dit veilig was om stil te hou. Die ambulanspersoneel het kop gehou en die polisie dadelik van die voorval in kennis gestel. Hulle het baie gou gereageer en ’n ander ambulans ontbied om my oor te laai en na Pretoria te neem. Die hele voorval was vir my ’n traumatiese ervaring.”

Hofmeister het ná sy opname in Akasia die goeie nuus ontvang dat hy geen ernstige hoofbeserings opgedoen het nie en hy is reeds ontslaan.

 

Hier is die ambulans op die toneel nádat daar om hulp geroep is.

 

Die polisie het in reaksie gesê hulle sal hul optrede in dié omgewing verskerp. Shawn Herbst, Netcare-woordvoerder, het by navraag gesê die ambulanspersoneel en Hofmeister is baie gelukkig dat hulle ongedeerd daarvan afgekom het.

“Ons is bewus van die probleem op die snelweg, want dit gebeur gereeld,” het hy gesê. “Ons loods tans ’n bewusmakingsveldtog hieroor en het reeds met die Arrive Alive-organisasie in verbinding getree vir meer inligting en hulp om ons pasiënte en nood- dienswerkers in sulke gevalle te beskerm.”

Related Articles

Back to top button