CrimeNews

Kameras help misdaad hokslaan

Waterbergers kan gerus wees dat booswigte se bedrywighede toenemend op kamera vasgelê word danksy die hulp van die nuutste tegnologie en ’n toegewyde span van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en polisie.

Die Pos het met AO James Findlay, polisiewoordvoerder in Modimolle, en AO Pieter Booyse, lid van die landelike veiligheidsbestuur, gesels om meer uit te vind oor dié kamerastelsel.

“Modimolle se GPF vir landelike veiligheidsbestuur het in Februarie 2020 ’n fondsinsamelingsprojek geloods om die kamerastelsels op al die besigste toegangsroetes te installeer en het sedert Januarie vanjaar reeds sewe kameras opgerig. Die koste om een kamera op te rig met sonkragpanele en ’n battery, beloop ongeveer R75 000 en daarmee saam is daar maandelikse fooie vir die stelsel, instandhouding en versekeringskoste,” het Booyse gesê.

Die GPF het hande gevat met ’n diensverskaffer van Bela-Bela om die kameras te installeer en op hul netwerkstelsel te moniteer, terwyl ’n subkontrakteur die pale bou en oprig.

Daar is tans 134 kameras wat die omgewing om Modimolle, Roedtan, Bela-Bela, Tuinplaas en Settlers dek.

Volgens Booyse word die kameras gekoppel aan ’n stelsel wat op sy beurt weer aan die polisie se databasis, asook aan die National Traffic Information System (NaTIS), gekoppel is.

Wanneer die kamera ’n verdagte voertuig afneem, word ’n boodskap per Wi-Fi na die rekenaarstelsel gestuur wat dit na al die lede stuur.

Sekere kameras kan ook voertuigregistrasienommers lees sodat alle beskikbare inligting op die polisie se databasis en NaTIS dadelik aangestuur word. Volgens die polisiewoordvoerder kan hulle sekere registrasienommers teiken om sodoende gesteelde voertuie of goedere op te spoor.

Die beweging van sindikate word ook noukeurig dopgehou voordat daar toegeslaan word.

Die GPF-lede bestaan uit ’n groep mense uit die gemeenskap wat saam met polisieverteenwoordigers werk om misdaad te bekamp.

Elke dorp het sy eie GPF-sektor, asook ’n aparte sektor vir die landelike veiligheid. Die onderskeie sektors is heeltyd in kontak met mekaar en het dus toegang tot ’n landwye netwerk van kameras en inligting.

Die GPF is ’n nie-winsgewende organisasie wat staatmaak op skenkings en bydraes uit die gemeenskap om die volhoubaarheid van projekte te verseker.

Inwoners wat betrokke wil raak, kan vir AO Pieter Booyse bel by tel. 082 850 3419 vir meer inligting.

Related Articles

Back to top button