CrimeNews

Boosdoeners teiken kitsbank met plofstof

Boosdoeners het in die vroeë oggendure van Maandag 12 April probeer om ’n kitsbank by die Kalkbult-sakeonderneming buite Radium met plofstof op te blaas.

Volgens kol. Abel Phetla, bevelvoerder van die Bela-Bela-polisie, het die voorval ongeveer 02:15 gebeur toe ’n groep booswigte ’n kitsbank op die onderneming se perseel met plofstof probeer opblaas het. Die kitsbank is losstaande van die gebou.

Phetla sê die polisie vermoed die plofstof was van swak gehalte. Die ontploffing het slegs die glasdeur van die kitsbank beskadig.

Die kluisgedeelte in die kitsbank, waar die note geberg word, was ongedeerd. Die nabygeleë geboue het geen skade gely nie en niemand is in die voorval beseer nie, het Phetla gesê.

Die skade aan die kitsbank beloop ongeveer R20 000. Mense wat in die omgewing was tydens die voorval, sê hulle het net die ontploffing gehoor, maar geen verdagtes opgemerk nie.

Die saak word ondersoek. Phetla doen ’n beroep op die publiek om waaksaam te wees en enige verdagte aktiwiteit aan te meld.

Hy het gewaarsku dat dié tipe rowers gewoonlik weer op dieselfde teiken toeslaan.

Related Articles

Back to top button