CrimeNews

Afriforum-buurtwaglede op hul pos

Die nuwe AfriForum-buurtwag in Mookgophong het nie op hulle laat wag nie en het reeds ’n eerste optrede in samewerking met die polisie uitgevoer.

Volgens Kobus van Loggerenberg, verkose buurtwagleier en veiligheidskoördineerder, was die optrede op Vrydagaand 9 April baie geslaagd en 21 lede het daaraan deelgeneem.

Padblokkades is gehou en 13 voertuie het die dorp en omliggende dele gepatrolleer.

“Ons wil sigbaar en diensbaar wees en ons neem die veiligheid van ons inwoners ernstig op en sal ons bes lewer om ons en ons gesinne en eiendomme te beskerm,” het hy gesê.

Verskeie verdagte voertuie is tydens die optrede deursoek en die dorp is gefynkam om kwelpunte wat aandag moet geniet, te identifiseer.

Niemand is in hegtenis geneem nie, maar die sigbaarheid van die buurtwag en polisie het as afskrikmiddel vir booswigte gedien.

Volgens Philip van Staden, voorsitter van die AfriForum-tak in die dorp, het hulle gevind dat daar baie rondloperhonde in die strate is wat veroorsaak dat waghonde aanhoudend blaf sonder dat daar gevaar of ’n indringer is.

“Ons het ook gevind dat talle hekke oopstaan en dit is makliker vir inbrekers om toegang tot sulke eiendomme te verkry,” het Van Staden gesê.

Die buurtwag beplan om gereeld soortgelyke optredes uit te voer. Volgens Van Loggerenberg en Van Staden is die unieke Telegram Netwerk en @ AfriForumBoutOt-stelsel van kommunikasie baie doeltreffend.

Hulle moedig inwoners aan om by die buurtwag aan te sluit.

Om die toep te gebruik, laai Telegram af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot) of skakel die noodnommer by tel. 066 1599 622.

Related Articles

Back to top button