CrimeNews

Modimolle-vrou steek glo eks met mes dood

’n Ernstige woordewisseling het vermoedelik gelei tot die dood van ’n onbekende man in die Phagameng-woongebied in Modimolle.

Die voorval het volgens AO James Findlay, polisiewoordvoerder, op Saterdagoggend 3 April om 02:00 plaasgevind by Elisa Malare Kanjane (24) se huis in Phagameng.

Volgens ooggetuies het daar ’n hewige argument tussen Kanjane en die man, met wie sy glo voorheen ’n verhouding gehad het, by ’n kuierplek in die omgewing ontstaan.

Albei het die perseel verlaat toe dit om middernag gesluit het. Die man het na bewering in die vroeë oggendure by Kanjane se huis opgedaag en ’n woordewisseling het ontstaan waarna hy met ’n mes gesteek is. Hy het op die toneel aan sy beserings beswyk.

Kanjane is dieselfde dag in hegtenis geneem en het op Dinsdag 6 April in die Modimolle-landdroshof verskyn op aanklag van moord. Sy bly in aanhouding totdat die saak weer op Woensdag 14 April voorkom vir ’n moontlike borgtogaansoek.

Findlay het gesê die polisie kan nog nie die man se naam bekend maak nie omdat sy naasbestaandes teen druktyd nog nie van sy dood in kennis gestel is nie.

Die polisie ondersoek ook ’n saak van huisroof wat op Maandag 5 April in Uitbreiding 7 in Phagameng, Modimolle, plaasgevind het. Volgens die polisie het die inwoners van die huis in die vroeë oggendure wakker geskrik toe hulle deur drie booswigte oorval is.

Die huiseienaar, sy broer en dié se vriendin, is vasgebind en van hul selfone, kontant en huisware beroof.

Twee voertuie — ’n Jaguar en ’n Jeep Wrangler — is gesteel, maar albei voertuie is later dieselfde dag in die Soshanguve-township noord van Pretoria opgespoor. Niemand is in die voorval beseer nie.

Die polisie is op soek na die drie verdagtes en volg alle moontlike leidrade op.

Die Pos het van AO Ockert du Plessis verneem dat die flink optrede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) vir landelike veiligheid, gelei het tot die opsporing van die twee voertuie.

“Daar is sewe kameras buite Modimolle opgestel wat voertuie se bewegings in en uit die dorp moniteer. Toe die Modimolle-polisiestasie ons verwittig het van die motordiefstal, het ons dadelik aan die werk gespring en die voertuie help opspoor,” het hy gesê.

Nog ’n voorval van motordiefstal het op Saterdag 3 April helder oordag in die sentrale sakesektor van Modimolle plaasgevind toe een van Spar se 10-ton Dyna-vragmotors gesteel is.

Die vragmotor was binne ’n omheinde area by die bakkery geparkeer toe boosdoeners die elektriese hek oopgedwing en met die voertuig gevlug het. ’n Losstaande vragmotorbattery is ook gesteel. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die polisie ondersoek die saak.

Volgens Findlay het drankverwante oortredings, veral aanrandings, in die Phagameng-woongebied toegeneem en heelwat inwoners is in hegtenis geneem weens die gebruik van alkohol in die openbaar. Motorryers wat onder die invloed van drank bestuur het, is ook in hegtenis geneem.

Die plaaslike polisiekantoor maan ook boere in die Vaalwater- en Elandsfontein-omgewing om waaksaam te wees aangesien ’n toename in huisbrake opgemerk word, het Findlay gesê.

Related Articles

Back to top button