CrimeNews

Polisie bekommerd oor vlaag rooftogte

Die Bela-Bela-polisie het aangedui dat rooftogte die afgelope maand in dié dorp toegeneem het.

Volgens ’n polisiewoordvoerder is die statistieke nie amptelik deur die nasionale kantoor bekend gemaak nie, maar merk die plaaslike polisiekantoor dié toename op.

’n Plaaswerker wat in die Springbokvlakte-gebied woon is op Woensdag 3 Maart in die nagtelike ure deur drie onbekende mans in sy huis oorval.

Die werker is vasgebind en van sy selfoon, huisware en kontant beroof. ’n Transformator is ook gesteel. Volgens die polisie het die rowers gesigmaskers gedra. Die man het homself losgewikkel nadat die rowers gevlug het en die polisie ontbied.

’n Dag later is twee mans helder oordag by ’n woning in Swanepoelstraat, Bela-Bela, betrap terwyl hulle besig was om ’n televisie te ontkoppel. Volgens die polisie het die booswigte ’n vuurwapen op die vroulike huiseienaar gerig toe sy en haar kind by die huis opgedaag en op hulle afgekom het.

Die mans het op die vlug geslaan. In die township het rooftogte oor naweke waar slagoffers met messe en skerp voorwerpe gedreig word, ook toegeneem, het die polisie gesê.

Dit kom voor asof booswigte wag tot net voordat die aandklokreël in werking tree en dan toeslaan wanneer mense saans teen 23:00 se kant huiswaarts keer.

Die polisie ondersoek die moontlikheid dat van dié misdade dwelmverwant is. Die polisie het inwoners voorts gemaan om uiters waaksaam te wees wanneer hulle transaksies via sosiale media doen.

Mense word ook daarop gewys dat dit onveilig is om mense op afgeleë plekke vir “transaksies” te ontmoet.

Een klaer wat onlangs ’n fiets wou koop wat op sosiale media geadverteer is, het die “verkoper” op ’n stil, verlate plek in Ludorfstraat ontmoet.

Daar is hy deur die “verkoper” oorrompel en van sy besittings beroof, het die woordvoerder gesê.

Die polisie raai inwoners aan om hul naaste polisiestasie of buurtwaglid te kontak indien hul verdagte bedywighede opmerk.

Related Articles

Back to top button