CrimeNews

Afriforum-buurtwag nou ook in Mookgophong

Inwoners van Mookgophong het in Augustus 2020 ’n baie suksesvolle massaoptog gehou om hul weersin in toenemende misdaad in die omgewing te toon.

Dit het gevolg ná die plaasaanval in Maart 2020 op die Van Zyl-gesin buite Mookgophong.

Optoggangers het met hul optrede hul meegevoel met die Van Zyl-familie betoon. Die optog het landwyd opslae gemaak waarna AfriForum besluit het om ’n buurtwag in dié dorp op die been te bring.

Die buurtwag is amptelik op Woensdagaand 24 Maart gestig.

“Ons doel is om te fokus op die welstand en veiligheid van ons gemeenskap. Ons wil gemeenskapsweerbaarheid skep deur ’n veerkragtige, parate gemeenskap daar te stel wat optree as die oë en ore van die polisie en help om die gemeenskap se veiligheid te bevorder,” het Andries Opperman, veiligheidskoördineerder, gesê.

Daar is ses maande gelede begin met die voorbereiding van die stigting en Kobus van Loggerenberg is deur die gemeenskap verkies as leier van die buurtwag.

Hy is verantwoordelik vir die koördinering van die veiligheidsaspekte van die buurtwag.

Buurtwaglede het intussen opleiding ontvang in die gebruik van AfriForum se unieke Telegram Netwerk en @AfriForumBuurtBot.

Die Bot is ’n program wat op die Telegram-platform gebruik word en help met die outomatisering van administrasie soos lede-inligting, munisipale probleme en in besonder ook veiligheid.

Wanneer ’n lid vir diens op die AfriForum-buurtwag se operasionele groep aanmeld, word daar outomaties ’n joernaalinskrywing gedoen wat al die besonderhede van die patrollie of reaksie stoor.

“Net soos ons gebuk gaan onder munisipale agteruitgang, ly ons onder misdaad en wetteloosheid wat in ons dorpe en op plase heers. Ons neem nou verantwoordelikheid vir ons eie lot en toekoms en daarom sal ons nie langer agteroor sit nie. Die stigting van hierdie buurtwag is die volgende tree wat ons gee op die pad van selfbeskikking,” het Philip van Staden, voorsitter van die dorp se AfriForum-tak, gesê.

Andries Opperman, veiligheidskoördineerder in Limpopo, het die takbestuur bedank vir hul ondersteuning aan die gemeenskap.

Related Articles

Back to top button