CrimeNews

Aanklagte teen Luüs voorlopig teruggetrek

Die Bela-Bela-sakeman Chris Luüs is op Vrydag 19 Maart in die Estcourt-streekhof in KwaZulu-Natal meegedeel dat die aanklag van moord — wat die afgelope jaar soos ’n swaard oor sy kop hang — voorlopig teruggetrek word.

’n Woordvoerder van die Estcourt-hof het die bevel aan Die Pos bevestig.

Die skakelbeampte kon geen verdere detail verskaf oor wat tot die hofbesluit gelei het nie, behalwe dat die hof steeds wag op uitstaande getuienis in verband met die saak.

Luüs is in Oktober 2019 in hegtenis geneem en aangekla van die moord op sy vriendin, Annel Snyman. Sy was die eienaar van die Loebies-gasteplaas op die Alma-pad buite Bela-Bela.

Luüs en Snyman was in September 2019 saam op vakansie by die Cayley Mountain Resort in Winterton, KwaZulu-Natal. Snyman is tydens hul verblyf daar oorlede. Snyman is volgens die polisie agter die badkamerdeur in die wooneenheid dood gevind.

Luüs was sedert Oktober 2019 in aanhouding en borgtog is eers in Maart 2020 toegestaan. Die saak het sedertdien gesloer, maar het verlede Vrydag ’n wending geneem toe die aanklag teen Luüs voorlopig teruggetrek is.

Luüs het kort ná Snyman se dood in ’n onderhoud met Die Pos gesê hy was ontsettend lief vir haar en dat haar dood hom diep geraak het.

Hy het met sy terugkeer na Bela-Bela op sy swembadonderneming gefokus en was dankbaar om weer by sy kinders te wees.

Volgens Luüs het sy familie en vriende hom deurentyd ondersteun en bygestaan nadat hy in hegtenis geneem is. Hulle het hom ook aangemoedig om weer sy werk te hervat.

Hy het die afgelope week aan Die Pos gesê hy is baie dankbaar vir die lojale onderskraging wat hy kry.

Related Articles

Back to top button