CrimeNews

Ambulans op N1 beroof

Padverbruikers word gewaarsku dat rooftogte op die N1-snelweg tussen die Mantsole-weegbrug en die Pumulani-tolhek weer hoogty vier.

Die nuutste slagoffer is ’n ambulans vol pasiënte wat op Donderdag 4 Maart geteiken is.

Luidens ’n verklaring van die provinsiale departement van gesondheid is hulle geskok oor die voorval en beskou hulle dit as verregaande dat rowers nou selfs ambulanse teiken.

Die ambulans was na verneem word met vier pasiënte onderweg na Pretoria toe ’n band naby die Mantsole-weegbrug onklaar geraak het.

Die pasiënte is onderskeidelik van die Nhkhensani-hospitaal in Giyani en die Maphutha Malatji-hospitaal in Mopani na die George Mukhari-hospitaal in Pretoria vervoer.

Vier nooddienswerkers was saam om pasiënte by te staan. Luidens die verklaring het die ambulansbestuurder stilgehou en glo gevind dat skerp voorwerpe op die padoppervlak geplaas is en die band beskadig het.

Twee gewapende rowers het opeens uit die bosse te voorskyn gekom en die insittendes aangehou.

Die paramedici, asook die pasiënte, is van hul bankkaarte, kontant en selfone beroof voordat die rowers verdwyn het. Een van die pasiënte het ’n selfoon weggesteek en die slagoffers kon die polisie vir hulp ontbied.

’n Staatsambulans van die Warmbad-hospitaal is daarna uitgestuur om die pasiënte verder na Pretoria te vervoer.

Die Bela-Bela-polisie ondersoek ’n saak van gewapende roof.

Die polisie raai motorryers aan om op die uitkyk te wees vir enige vreemde voorwerpe op die N1-snelweg en om glad nie stil te hou wanneer hulle onveilig voel nie.

Hulle word aangeraai om eerder stadig na ’n veilige plek te probeer ry.

Related Articles

Back to top button