CrimeNews

Gesteelde motor word beste verjaardaggeskenk

’n Jong man se oplettendheid is beloon met die beste verjaardaggeskenk waarvoor hy kon vra toe die gesin se gesteelde motor in Modimolle gevind is.

Clinton van Niekerk (19) was op Sondagoggend 21 Februarie saam met sy ouers en suster kerk toe. Die gesin wou na afloop van die kerkdiens gou ’n paar inkopies gaan doen.

Op pad het Clinton ’n geparkeerde motor opgemerk wat presies gelyk het soos hul gesinsmotor wat ’n maand tevore in Pretoria gesteel is.

Danie van Niekerk, Clinton se pa, ’n pastoor by ’n plaaslike gemeente het aan Die Pos gesê: “Ons het dadelik om die blok gery en naby die motor geparkeer sodat ons van naderby kon seker maak of dit wel ons gesteelde motor is. Hoewel die voertuig ’n Gauteng-registrasienommer gehad het, het ons al die unieke merke binne en buite herken,” het Danie gesê.

“Ek het onmiddelik ’n kennis van my, Jan Norval, wat ’n verkeersbeampte in Modimolle is, geskakel om te kom help. Op sy beurt het hy die Modimolle-polisiestasie in kennis gestel. Ons het die motor agtervolg tot by die brug in Nelson Mandelaweg waar polisiebeamptes die bestuurder voorgekeer en die twee insittendes in hegtenis geneem het,” het hy gesê.

Die polisie het beslag gelê op die voertuig en by nadere ondersoek vasgestel dat dit wél die Van Niekerk-gesin se gesteelde voertuig is.

Die saak is deur AO Charles van der Walt ondersoek, maar die voertuig is intussen reeds aan sy regmatige eienaars terugbesorg. Die gesin het onlangs van Port Shepstone in KwaZulu-Natal na Modimolle verhuis.

“Ek was in Januarie in Pretoria vir sake toe ons gesinsmotor in Mootstraat, Hercules, gesteel is,” het Danie gesê. “Ons was gestrand sonder ’n voertuig, maar twee barmhartige Samaritane het hul oor ons ontferm en aan ons ’n voertuig geskenk.” “Met dié dat ons gesteelde gesinsmotor teruggevind is, is Clinton nou die trotse eienaar van sy eerste motor,” het Danie gesê.

Clinton wat op Dinsdag 23 Februarie sy matriekuitslae ontvang het en op Woensdag 24 Februarie sy 19de verjaarsdag gevier het, kon nie vir ’n beter geskenk gevra het nie.

Related Articles

Back to top button