CrimeNews

Misdaad neem toe nadat drank weer vryelik beskikbaar is

Die alkoholverwante misdaad in Modimolle het merkbaar toegeneem sedert die opheffing van die alkoholverbod op Maandag 1 Februarie.

Volgens AO James Findlay, polisiewoordvoerder van Modimolle, is verskeie mense die afgelope naweek in hegtenis geneem op aanklag van die bestuur onder die invloed van alkohol.

Bheki Cele, minister van polisie, het vroeër gesê daar is ’n beduidende verband tussen alkoholmisbruik en geweldsmisdaad.

Daar is ’n wesenlike verskil in die voorkoms van misdaad wanneer die SAPS-statistieke van 29 Maart tot 22 April 2019 vergelyk word met dieselfde tydperk in 2020 (toe daar ’n algehele verbod op die verkoop van alkohol was).

Daar was 1542 moordsake in 2019 teenoor slegs 432 sake in 2020. Verkragtings het afgeneem van 2 908 sake in 2019 na 371 sake in 2020. Aanranding met die opset om ernstig te beseer het van 11 876 klagtes afgeneem na 1 758 klagtes. Huishoudelike geweld het ook skerp afgeneem van 9 990 sake in 2019 na 3 061 sake in dieselfde tyd in 2020.

Volgens Findlay is daar op Saterdag 13 Februarie ’n moord by die Modimolle-polisiestasie aangemeld.

“Die liggaam van ’n 30-jarige vrou is in die omgewing tussen Uitbreiding 11 en Uitbreiding 13 van die Phagameng-township in die veld gevind. Haar vriend, Steve Sekolwane Segwapa, is dieselfde aand in hegtenis geneem en het reeds vlugtig in die hof verskyn, het Findlay gesê.

Sy saak is uitgestel na Woensdag 24 Februarie. Hy bly intussen in aanhouding.

Volgens Findlay is die oorledene en haar vriend glo vroeër die dag by ’n kuierplek in Phagameng opgemerk. Die oorsaak van haar dood sal eers tydens ’n lykskouing bepaal kan word, het Findlay gesê.

Die naam van die oorledene kan eers bekend gemaak word nadat haar naasbestaandes van haar dood in kennis gestel is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button