CrimeNews

Bedrog met projek aangemeld

Die behuisingsprojek in die Spa Park en Koppewaai-omgewing in Bela-Bela wat reeds sedert 2012 sloer, is die afgelope week weer onder die soeklig geplaas.

Die betrokke grond, bekend as Erf 1491, behoort aan die Behuisingsontwikkelingsagentskap (HDA) en is in 2010 vir meer as R60 miljoen gekoop.

Die departement van samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings (CoGHSTA), in samewerking met die Bela-Bela-munisipaliteit, is sedertdien gemoeid met die ontwikkeling en toekenning van behuising aan begunstigdes.

Die ontwikkeling is telkemale tot ’n stilstand gebring deur ondersoeke wat geloods moes word. Daar word tans beweringe ondersoek dat daar glo met die lys van begunstigdes gepeuter is. Inwoners wag reeds etlike jare vir die huise wat aan hul beloof is.

Die ontwikkeling het aanvanklik vir 1 000 wonings voorsiening gemaak, maar dié getal het deur die loop van jare verminder na 500 en toe na 250.

Inwoners het einde verlede jaar met skok verneem dat daar klaarblyklik vir net 82 wonings voorsiening gemaak word.

Die Pos het navrae aan CoGHSTA gestuur, maar geen terugvoer is op ons navrae ontvang nie. Die grond behoort steeds aan die HDA en luidens die laaste korrespondensie met die HDA in 2020 word daar steeds beoog om 250 wonings op te rig.

Kapt. Annemarie Smith, speurtakhoof van die polisie, het aan Die Pos bevestig dat ’n klag van bedrog aanhangig gemaak is in verband met ongerymdhede rakende die lys van begunstigdes. Luidens die klagstaat is daar wysigings aangebring wat teenstrydig is met die oorspronklike lys.

Begunstigdes is na bewering bygevoeg. Smith het gesê die polisie stel ondersoek in.

Nog niemand is in verband met die klagte ondervra nie.

Related Articles

Back to top button