Die drie se borgtogaansoek kon nie aangehoor word nie omdat daar nog gewag word op forensiese uitslae.
Die saak is uitgestel na Woensdag 3 Februarie sodat hulle regsverteenwoordiger teenwoordig kan wees wanneer die klagtes deur die staat aan hulle gestel word.
Hul regsverteenwoordiger kon nie die hofverrigtinge bywoon nie omdat hy ingevolge die Covid-19-regulasies in isolasie was, het die hof gehoor.
Die verhoor is intussen na die hooggeregshof in Polokwane verwys en sal na verwagting eers in 2022 aangehoor word.
Die drie verdagtes, Ugerius Saga (30), Loyd Mabundo (28) en Tatenda Ngwenya (32), is sedert Maart 2020 in aanhouding. Hulle word onder meer aangekla van huisbraak en moord.
Die verdagtes bly in aanhouding en die polisie soek steeds na ’n vierde verdagte wat verbind word met die saak.
Die Van Zyl-familie was duidelik verlig oor die vordering wat daar tot nou gemaak is en het aan Die Pos gesê hulle is vol vertroue dat die reg nou sy verloop sal neem.
Van Zyl se vrou, René van Zyl (74), is tydens die aanval aangerand en van die egpaar se besittings is geroof.