CrimeNews

Modimolle se skurke nié met vakansie

Skurke in die Modimolle-omgewing het vanjaar nié vakansie geneem nie.

Polisiewoordvoerder AO James Findlay het aan Die Pos gesê daar was gelukkig nie tydens die feesseisoen ’n skerp toename in inbrake in die Modimolle-omgewing nie.

Daar was ook geen voorvalle van gewapende roof in die sentrale sakegebied nie.

Limpopo Lawn Mowers is wel beroof van nege kettingsae, ’n skootrekenaar en verskeie kleiner gereedskapstukke. Die inbraak het die afelope naweek plaasgevind terwyl die onderneming se deure toe was. Die toename in motordiefstal, veral bakkies, is sorgwekkend en die polisie versoek mense om veiligheidshekke met slotte aan te bring om die veiligheid van voertuie te verseker. Findlay het gesê aanlynslenters het aansienlik toegeneem. Hy het inwoners gemaan om uiters versigtig te wees wanneer hulle aanlynbetalings of –sake doen.

“Baie mense het deurgeloop onder instansies wat kastig persoonlike lenings aanbied, maar dan betaling eis om hul versoek te prosesseer. By latere ondersoek is ontdek dat hierdie instansies nie bestaan nie. Mense het veral groot bedrae verloor met die aanlynverkoop van tweedehandse voertuie,” het hy gesê.

“As die aanbieding te goed is om waar te wees, is dit gewoonlik nie waar nie.”

Findlay het gesê kuberkrakers is uiters geslepe en dit is vir die polisie moeilik om hierdie misdadigers op te spoor.

Die nuwe Covid-19-regulasies, wat alkoholverkope verbied, het volgens Findlay ’n drastiese afname in alkoholverwante misdaad soos gesinsgeweld en aanranding teweeggebring.

Die polisie versoek inwoners om gehoor te gee aan die Covid-19-regulasies.

“Die dra van maskers in die openbaar is verpligtend. Daar is ’n aandklokreël van 21:00 tot 05:00 wat slegs met geldige redes, soos vir werkdoeleindes of mediese ongevalle, verbreek mag word. Mense wat hierdie regulasie verontagsaam kan in hegtenis geneem word,” het Findlay gesê.

Hy het inwoners ook daaraan herhinner dat die amnestietydperk vir vuurwapens einde Januarie 2021 eindig.

Lede van die publiek kan enige tyd vuurwapens by die Modimolle-polisiestasie indien.

Related Articles

Back to top button