CrimeNews

Verdagtes borgtog geweier ná Van Zyl-moord

Die drie mans wat verdink word van die moord op Alwyn van Zyl (78) van Badseloop buite Mookgophong het op Woensdag 25 November weer in die hof in die dorp verskyn.

Die verdagtes, Tatenda Mongwenya (32), Lloyd Madumba (28) en Yaganias Saga (30), word aangekla van huisbraak, poging tot moord, besit van gesteelde goedere, moord, oortreding van die wet op immigrasie en die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie.

Hulle het nou vir die eerste keer sedert hul inhegtenisname agt maande gelede ’n aansoek om borgtog gebring.

Hul regsverteenwoordiger het aangevoer dat hulle al agt maande in aanhouding is en dat art. 342 van die Strafproseswet nou in werking behoort te tree, wat bepaal dat verhoorafwagtendes geregtig is op ’n verhoor binne ses maande anders kan hulle vrygelaat word.

Daar het groot kommer in die gemeenskap geheers dat die mans vrygelaat kan word omdat die uitslae van DNS-toetse en vingerafdrukke nog nie beskikbaar is nie.

Volgens Desirée van der Walt, DA-parlementslid, is die agterstand van forensiese toetse by die polisie op Dinsdag 17 November in die parlement bespreek.

Bheki Cele, minister van polisie, het aan die Nasionale Vergadering gesê die agterstand met die ontleding van DNS-monsters staan landwyd op 117 736 wat beteken dat gevaarlike geweldsmisdadigers vry rondloop en voortgaan om grudade te pleeg.

Cele het gesê sy adjunkminister, Cassel Mathale, het voor die uitbreking van die Covid-19-pandemie reeds kundiges in die buiteland besoek om hulp in te win om DNS-ontleders by ’n nuwe forensiese wetenskapakademie wat in Soshanguve gebou word, op te lei.

Volgens Cele is korrupsie, swak kontrakbestuur, ’n personeeltekort met 175 vakante ontledersposte en begrotingsprobleme ook redes vir die DNS-agterstand. Landdros Yusuf Tayob het ná die aanhoor van die ondersoekbeampte in die saak, Ross Rossouw se betoog, borgtog geweier en dit duidelik gemaak dat hy die huidige situasie van die agterstand van forensiese toetse en die Covid-19-pandemie in ag geneem het.

Die saak is uitgestel tot 21 Januarie 2021. Van Zyl is tydens die aanval op Donderdag 19 Maart verwurg en sy vrou, René, het ligte beserings opgedoen toe vier aanvallers hul huis betree het.

Die egpaar is ook beroof. Volgens die polisie is hulle warm op die spoor van ’n vierde verdagte.

Related Articles

Back to top button