CrimeNews

Kan vroue steeds die polisiediens vertrou?

Statistieke toon dat Limpopo besig is om die stryd teen geweld teenoor vroue te verloor.

Die minister van polisie, Bheki Cele, het na aanleiding van ’n vraag van die Demokratiese Alliansie (DA) in die parlement bevestig dat dossiere van geweld teen vroue teen polisiemanne van verskeie polisiestasies in Limpopo geopen is.

Die Rooiberg-polisiestasie, wat deel vorm van die Thabazimbi-munisipale distrik, is een van hierdie stasies.

Die ander is Makhado, Mara, Mphephu, Polokwane, Bolobelu, Modjadjiskloof en Hlogotlou. Desiree van der Walt, DA-LP en provinsiale voorsitter van die Demokratiese Alliansie Vroue-netwerk (Dawn), het in ’n verklaring gesê Dawn is uiters besorgd oor die groot aantal polisiemanne in die provinsie wat van geweld teenoor vroue beskuldig word.

Die DA is onsteld omdat daar geen aanduiding is of hierdie lede steeds op hul poste is of nie.

Sy het gesê die DA sal volhou om vrae hieroor te vra, want dit is onaanvaarbaar as mense van wie juis verwag word om die gemeenskap te beskerm, geweld teenoor vroue pleeg.

Sy het gesê statistieke toon dat Limpopo besig is om die stryd teen geweld teenoor vroue te verloor.

Volgens haar is daar die afgelope boekjaar altesame 8 519 gevalle van geweld teenoor vroue in die provinsie aangemeld. Hierdie klagtes sluit ernstige klagtes soos moord, aanranding, verkragting en seksuele molestering in.

Van der Walt het gesê die DA dring aan op antwoorde en is diep bekommerd oor of vroue nog die polisie kan vertrou.

Related Articles

Back to top button