CrimeNews

Jong grypdief kom sy Moses teë

“Hy het nie gedink dié vrou sal hom kan inhaal nie, maar die adrenalien het ingeskop en ek het hom verkeerd bewys.”

’n Jong grypdief van Mookgophong het behoorlik sy Moses teëgekom toe hy ’n sakevrou van die dorp se selfoon gegryp het.

Adele Visser (56) was besig om op haar selfoon te praat toe die boef haar van agter bekruip en haar selfoon uit haar hand geruk het.

 

ADVERTENSIE/ADVERTISEMENT

 

Volgens Visser was sy op Woensdag 21 Oktober net ná 16:00 op pad na Aqua Detergents toe iemand haar foon gegryp het.

“Ek was baie ingedagte, maar het hom instinktief agterna gesit,” het sy vertel.

Visser het hom binne sowat 100 m ingehaal, aan die kraag gegryp en hom ’n vuishou in die gesig en ’n skop gegee. Sy het haar selfoon by hom afgevat en hy het laat spaander.

Visser was op haar dag ’n kranige 400 m-atleet en het ook opleiding in selfverdediging.

“Hy het nie gedink dié vrou sal hom kan inhaal nie, maar die adrenalien het ingeskop en ek het hom verkeerd bewys,” het sy skertsend gesê.

Die dief het ’n glimbaadjie gedra en hom as motorwag by die sentrum voorgedoen, het sy gesê. Volgens Visser het sy nie ’n klag by die polisie gelê nie.

Dit is nie die eerste keer dat grypdiewe in dié omgewing doenig is nie. Mokone du Preez, sakeman van die dorp, het op ’n sosiale mediagroep geskryf die motorwagte by die betrokke sentrum is nie in sy diens nie, maar dat hy hulle wel van glimbaadjies en hoede voorsien.

Hy en van sy veiligheidspersoneel tree op wanneer probleme ondervind word, het hy gesê. Die polisie het inwoners gemaan om tydens die naderende feesseisoen paraat te wees.

“My raad aan inwoners is om altyd op hul hoede te wees, veral wanneer hulle op hul selfone praat,” het Visser gesê.


Baie dankie aan André Kock en Seun sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button