CrimeNews

ANC-wykraadslid van Bela-Bela skuldig bevind

’n ANC-raadslid van die Bela-Bela-munisipaliteit is die afgelope week in die Bela-Bela-landdroshof skuldig bevind op ’n aanklag van saakbeskadiging.

Boetie Maname, ANC-raadslid van wyk 9, het op Woensdag 21 Oktober in die Bela-Bela-landdroshof verskyn.

Luidens die klagstaat het Maname en nog ’n man, Philimon Aschendorf, glo in Augustus 2019 ’n veekraal in die Koppewaai-omgewing beskadig.

Albei mans is destyds op waarskuwing vrygelaat. Die hof het Aschendorf onskuldig bevind. Maname is egter skuldig bevind en tot nege maande tronkstraf of ’n boete van R3 000 gevonnis.

Maname is die tweede ANC-raadslid van Bela-Bela wat die afgelope ruk met die gereg gebots het. Petrus Aphane, wyk 8-raadslid, is onlangs geskors nadat hy aangekla is van openbare geweld in die Rust de Winter-omgewing. Volgens die polisie is die klag daarna teruggetrek.

Geen amptelike rede is daarvoor verskaf nie. Luidens ’n verklaring van die ANC-streekbestuur is hulle tans besig om “huis skoon te maak” en word daar ondersoeke gedoen na verteenwoordigers van die party wat aangekla en skuldig bevind word van ernstige misdrywe.

Matomi Moremi-Tauetsoala, ANC-streekwoordvoerder, het in reaksie aan Die Pos gesê die ANC-streekbestuur ondersoek steeds die aanklag teen Aphane.

Moremi het gesê die party is bewus van Maname se skuldigbevinding, maar wag op die burgemeester en speaker van die Bela-Bela-munisipaliteit om ’n amptelike verslag aan die party te stuur oor die agtergrond wat tot die aanklag gelei het.

“Ons sal die ernstigheid van die klag in ag neem wanneer ons bepaal of die betrokke lid geskors moet word of nie,” het Moremi gesê.

Moremi het aan Die Pos gesê daar is deesdae ’n neiging onder ANC-amptenare om mekaar oor-en-weer van verskeie dinge aan te kla.

“Dit is iets wat moet end kry. ANC-amptenare moenie hul amp misbruik om fout by ander te soek vir eie gewin nie. Dit is teenstrydig met ons visie om ’n goeie voorbeeld in die gemeenskap te wees,” het Moremi gesê.

Related Articles

Back to top button