CrimeNews

Veld gefynkam vir inbrekers

Mookgophong se inwoners het die laaste paar maande deurgeloop onder inbrekers en besluit om iets aan die saak te doen.

’n Groep inwoners het op Saterdag 3 Oktober bymekaar gekom om die beboste omgewing agter die Euphorbia Christelike Onafhanklike Skool te fynkam vir booswigte wat inbreek en dan in die bosse skuil. Kobus van Loggerenberg van die Naboom-veiligheidsgroep het die mense in groepe verdeel waarna hulle deur die bosse gestap en skuilplekke gekry het waar gesteelde kabels geberg is.

Ruiters met perde het ook aan die operasie deelgeneem.

Volgens Van Loggerenberg het die polisie niemand in hegtenis geneem nie, maar daar is duidelike tekens gevind waar booswigte onwettig woon en vandaar hul strooptogte uitvoer. ’n Onderneming wat al deurgeloop het, is Africa`s Eden-gastehuis.

Daar is die nag van Sondag 27 September by die kombuis van die gastehuis ingebreek.

Die inbreker is op ’n veiligheidskamera vasgevang waar hy in die rigting van die veld beweeg. Hy is egter nog nie aangekeer nie.

“Ons wil graag een keer per maand verskeie plekke om die woongebiede fynkam sodat ons die boosdoeners kan identifiseer en in samewerking met die polisie kan aankeer,” het Van Loggerenberg gesê.

Hy het ’n beroep op inwoners gedoen om deel te word van die veiligheidsgroep en betrokke te raak om gereeld patrollies te ry.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button