CrimeNews

Grondbesetting by verlate Royal Northlands-gholfbaan

Die vervalle ou Royal Northlands-gholflandgoed in Bela-Bela was op Saterdag 10 Oktober ’n miernes van bedrywighede toe ’n groep mense erwe tydens ’n onwettige grondbesettingsaksie aan hulself wou toeëien.

Talle Facebook-plasings is in die dae voor die beoogde besetting deur die groep United Residents Bela-Bela geplaas met “reëls” oor hoe die toekenning van dié erwe sou plaasvind.

Een van die plasings het lede aangemoedig om hul “regte” uit te oefen deur die gholfbaan te beset. Mense is aangeraai dat die gholfbaan die “gepaste” plek vir behuising is aangesien dit onbenut is.

 

ADVERTENSIE/ADVERTISEMENT

 

Die Pos het oor die jare herhaalde kere oor die toestand en eienaarskap van dié ontwikkeling berig. Die grond is dekades gelede deur die Bela-Bela-munisipaliteit aan ’n konsortium van Maleisië verkoop en ’n spogontwikkeling is daar beoog.

Die ontwikkeling het egter nooit van die grond gekom nie en die omgewing het oor die jare vervalle en onveilig geraak. Die Pos het ook gereeld berig oor boomslopings, riool- en vullisstortings in dié omgwing.

Belangstellendes is die afgelope week op sosiale media versoek om hul ID-dokumente saam te bring om in aanmerking te kom vir ’n sogenaamde erf. Die administrateurs van die FB-blad het voornemende grondbesetters ook gemaan om aan al die Covid-19-maatreëls te voldoen.

Talle mense het opgewonde navraag gedoen en ander aangemoedig om ook aan te meld om erwe te kry. Die organiseerders het glo sowat 220 erwe aan begunstigdes toegeken. Die Pos kon nie vasstel of begunstigdes koste moes aangaan om ’n erf te bekom nie.

Die Pos het die organiseerders by herhaling probeer kontak vir kommentaar, maar was teen druktyd nie suksesvol nie. Tinus Ras, DA-raadslid, het oor die naweek bevestig dat Michael Makhubela, munisipale bestuurder, die beoogde grondbesetting as ’n ernstige oortreding beskou en dat die munisipaliteit ’n hofinterdik oorweeg om die mense van die grond te verwyder.

Dit is in skerp kontras met die munisipaliteit se vroeëre herhaalde verskonings dat hulle nie by ’n ander onwettige grondbesettting in die Koppewaai-omgewing net buite die dorp kan ingryp nie, omdat dié grond volgens hulle in “privaat besit” is.

Die Pos het navrae aan Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, gestuur, maar hy het teen druktyd geen terugvoer gegee nie. Kol. Abel Phetla, stasiebevelvoerder van die Bela-Bela-polisie, het by navraag gesê ’n vergadering is op Maandag 12 Oktober met die grondbesetters gereël.

“Die strafproseswet bepaal dat slegs ’n wettige grondeienaar ’n klag van betreding by die polisie kan indien. Die munisipaliteit het tot op hede versuim om te openbaar wie die wettige eienaar van die grond is en daar is nog geen interdik aangevra nie,” het Phetla gesê.

“Ons het die organiseerders gewaarsku om hul bedrywighede te staak, wat hulle voorlopig gedoen het. Die mense het gekla dat die munisipaliteit nie met hulle in gesprek wil tree oor Bela-Bela se behuisingstekort nie en ons het hulle aangeraai om met die departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (Coghsta) in verbinding te tree.”

Ingevolge ’n titelakte wat Die Pos die afgelope week onder oë gehad het, behoort die Royal Northlands-gholflandgoed aan die MASA Group Pty. Ltd. Vier van die sewe direkteurs en twee sekretarisse wat die ontwikkeling moes bestuur het, het reeds bedank.

Daar is tans drie Maleisiese-sakepersone wat steeds as aktiewe direkteurs dien. Die grond is destyds teen ongeveer R33 miljoen verkoop.

  • Daar was teen druktyd vandeesweek geen persoon op dié terrein te sien nie, maar die tekens dat erwe uitgelê is, was oral sigbaar.

    Baie dankie aan André Kock en Seun sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button