Talle mense het op dié dag in die hoofstraat saamgedrom om te kyk hoe die mans deur ’n groot aantal polisielede aangekeer word.
’n Polisiehelikopter is ook ingebring vir bystand. Omstanders het spontaan begin hande klap toe die polisie die vier na die vangwa begelei het. Bela-Bela se hoofstraat loop die afgelope maand gereeld onder gewapende rowers deur en inwoners het gehoop dat dié inhegtenisname ’n groot deurbraak vir die polisie was.
Die polisie was op dié Vrydag in die omgewing besig met ’n roetine-operasie. Sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het vroeër gesê beamptes het vier verdagtes in twee geparkeerde voertuie voor die Creativity-klerewinkel aangekeer nadat ’n vermoede bestaan het dat ’n rooftog beplan word.
Ondersoekwerk het egter getoon dat die verdagtes geen vuurwapen by hulle gehad het nie. Die ondersoekspan het bevind dat die twee voertuie waarmee die mans gery het — albei VW Polo’s — se enjinnommers nie ooreengestem het met hul registrasienommers nie.
Die verdagtes is daarna aangekla van die besit van vermoedelik gesteelde voertuie, asook vervalsing van die voertuie se registrasienommers. Die Pos het ná talle navrae vasgestel dat slegs drie van die verdagtes, Meshack Baloyi (35), Josias Mahlatsi (45) en Norman Mothomoholo (37), op die aanklagte in die Bela-Bela-landdroshof verskyn het.
’n Familielid (40) van Mothomoholo wat ook aangekeer was het nooit in die hof verskyn nie. Luidens die klagstaat is die aanklagte teen die drie verdagtes voorlopig teruggetrek en hulle is vrygelaat.
Dit blyk uit die klagstaat dat die hof dié besluit geneem het weens ’n gebrek aan ’n volledige ondersoekverslag wat kon bewys dat die twee voertuie gesteel is. Kapt. Annemarie Smith, speurtakhoof, het in reaksie gesê die beskuldigdes sal na verwagting weer in die hof verskyn wanneer die verslag ingedien word.