Oscar Mashiloane (42) van Stoffelpark in Mamelodi, Pretoria, word verbind met die moord op Hannes Prinsloo (84) wat in 2009 by sy sakeonderneming in Nohaneng, ongeveer 20 km vanaf Settlers, vermoor is.
Prinsloo het in die omgewing geboer voordat hy afgetree en daarna op die perseel gaan woon het, het Die Pos vroeër berig. Hy is aangeval en vasgebind en is deur ’n werker dood in sy slaapkamer aangetref. Hy het vermoedelik versmoor weens die manier waarop hy vasgebind is.
Sy aanvallers het weggekom met twee selfone en ongeveer R76 000 kontant. Mashiloane is in September vanjaar, 11 jaar ná die moord, deur die polisie, in samewerking met die Boere Misdaad Ondersoekspan (BMO), aangekeer. Meer verdagtes word gesoek. Hy word aangekla van huisbraak met die opset om te roof en moord.
Sy borgtogaansoek was tot dusver onsuksesvol. Mashiloane moet weer op Maandag 5 Oktober in die hof verskyn. Hy bly in aanhouding.
- Lelimo Mafoka (29) word in dieselfde hof aangekla van die moord op Simon Malebane, ’n boer van Radium, en Daniel Ngoagamobe, ’n plaaswerker, wat in Augustus 2019 in die Klippan-omgewing vermoor is.
Die polisie het Malebane en Ngoagamobe destyds op die plaaswerf met skietwonde aangetref. Die oorledenes se selfone, R150 000 kontant en vuurwapens is gebuit.
Mafoka is in Julie vanjaar aangekeer in verband met die misdaad. Hy word aangekla van moord op albei mans, roof en dat hy onwettig in die land is. Mafoka kom oorspronklik van Lesotho en het in Diepsloot in Gauteng gewoon.
Sy borgtogaansoek was ook tot dusver onsuksesvol. Mafoka moet weer op Donderdag 8 Oktober in die hof verskyn. Hy bly in aanhouding. Kapt. Renier Schutte van die Bela-Bela-polisie is die ondersoekbeampte in albei sake.