Andries Opperman, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder, meen wanneer ’n woonhuis geteiken word, waarsku honde dikwels die inwoners betyds.
Ongelukkig weet boosdoeners dit en daarom word honde dikwels vooraf vergiftig.
“Die Covid-19-pandemie het gemeenskappe hard getref. Buurtwaglede kon aan die begin van die grendeltydperk nie patrollies ry nie en daar is steeds groot finansiële uitdagings vir dié sektor.”
Die Bela-Bela-polisie het bevestig daar is beslis meer klagtes van huisbraak en die vergiftiging van honde.
Opperman het gesê daar rus nou ’n groter verantwoordelikheid op inwoners om buurtwagte se hande te versterk sodat misdaad voorkom en daar flink tydens noodgevalle opgetree kan word.
Dit is belangrik dat mense honde binne én buite die huis aanhou.
“Blaffende honde gee eienaars kosbare tyd om alarm te maak indien hul lewens bedreig word tydens ’n aanval.”
Hy het gesê mense moet hul honde leer om nie kos van vreemdelinge te aanvaar nie.
“Sodra mense opmerk dat hul honde vergiftig is, moet hulle hul bure laat weet en uiters waaksaam wees.”
“Honde moet deeglik versorg word, goeie kos kry en in die geval van siekte of besering mediese hulp ontvang. Hulle moet geënt en teen bosluise behandel word.”
“Honde moet ook aandag kry en kan nie vasgekeer word in ’n klein tuintjie of beperkte ruimte nie. Hulle het gereelde oefening nodig. AfriForum is tans besig om na ’n nuwe Whatsapp-veiligheidsplatform, die Telegram-netwerk, oor te skakel. Hulle stel ook in dieselfde asem ’n nuwe interaksiekonsep — die AfriForumBuurtBot — bekend.
“Lede van die publiek kan ’n aanlynskakel volg en só misdaad of munisipale probleme aanmeld. Buurtwagte en takke maak dan gebruik van die inligting wat op die skakel gedeel word om voorkomend op te tree,” het hy gesê. Die buurtbotfunksie is beskikbaar op Google se soekenjin deur — t.me/AfriForumBuurtBot — in te tik.
“Die belangrikste veiligheidsmaatreëls is om by jou plaaslike gemeenskapsveiligheidsnetwerk in te skakel.”