CrimeNews

Verdagte 11 jaar ná moord aangekeer

Prinsloo en sy vrou, Marie — wat in 2006 ná ’n beroerte dood is — was drie keer die slagoffers van plaasaanvalle.

Die lang arm van die gereg het 11 jaar ná die moord op Hannes Prinsloo (84), ’n bekende sakeman en gewese boer van Settlers op die Springbokvlakte, toegeslaan.

Lede van die Bela-Bela-polisie, in samewerking met die Boere Misdaad Ondersoekspan, (BMO) het verlede week ’n verdagte in verband met die moord in hegtenis geneem.

Kapt. Renier Schutte, ondersoekbeampte, het aan Die Pos gesê die verdagte was baie slinks om die polisie vir só lank te ontduik en dit het deeglike speurwerk geverg om uiteindelik ’n deurbraak te maak.

 

’n Verdagte is 11 jaar ná die moord op Hannes Prinsloo (84) van die Settlers-omgewing aangekeer. Prinsloo is in sy huis oorval en vermoor. Op die foto is die verdagte nadat hy in hegtenis geneem is. Foto: Boere Misdaad Ondersoek

 

Oudkol. Sakkie Louwrens, wat gehelp het met die ondersoek, is betrokke by die BMO-span. Prinsloo is in Januarie 2009 deur vier verdagtes in sy huis aangeval, het Die Pos destyds berig.

Hy het ten tyde van die aanval by ’n winkelsentrum naby Nohaneng, ongeveer 20 km vanaf Settlers, gewoon en gewerk. ’n Petroljoggie het die oggend nadat die misdaad gepleeg is, onraad vermoed en Prinsloo vasgebind en dood in sy slaapkamer aangetref.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Hy het vermoedelik versmoor weens die manier waarop hy vasgebind is.

Die boosdoeners het toegang tot die huis verkry deur ’n venster se diefwering oop te buig en deur te klouter. Prinsloo en sy vrou, Marie — wat in 2006 ná ’n beroerte dood is — was drie keer die slagoffers van plaasaanvalle.

Die polisie se ondersoek het hulle uiteindelik na ’n verdagte, Oscar Mashiloane (42), in Stoffelpark in Mamelodi, Pretoria, gelei.

Schutte het gesê hulle is warm op die spoor van nog ’n verdagte. Mashiloane het op Woensdag 26 Augustus in die Bela-Bela-landdroshof verskyn op aanklagte van huisbraak met die opset om te steel en moord.

Die saak is uitgestel na Woensdag 2 September sodat hy kan aansoek doen vir regshulp. Teen druktyd was hy steeds in aanhouding.


Baie dankie aan Pavecon sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button