CrimeNews

Talle skole bekommerd oor beweerde bedrog

“Hy het ’n kontrak aan my voorgelê met my handtekening daarop, maar dit was duidelik dat my handtekening vervals is.”

Talle skole in Limpopo — wat almal dieselfde maatskappy met kantore in meer as een dorp in die provinsie gebruik om duur toerusting te huur — is op hete kole oor bewerings dat bedrog van miljoene rande glo gepleeg is en mense se handtekeninge glo op kontrakte vervals is.

Die Pos weet van meer as een skool wat beweer hulle is moontlik op dié manier bedrieg.

Jaco Botha, beheerliggaamvoorsitter van Laerskool Eugène N. Marais in Mookgophong, het op Donderdag 6 Augustus ’n kriminele klag by die polisie in die dorp teen dié onderneming gelê nadat dit glo aan die lig gekom het dat sy handtekening vervals is op ’n kontrak namens die skool met die betrokke onderneming.

Ingevolge die “nuwe” kontrak is die skool se huurtydperk vir toerusting verleng en bedrae ook verander.

Die Pos is in besit van afskrifte van albei dié kontrakte. Volgens Botha se verklaring is hy op Maandag 3 Augustus deur Quince Capital-finansierings- maatskappy geskakel en daarop gewys dat die skool ’n groot bedrag geld skuld op aankope van onder meer elektroniese witborde in klaskamers, ’n kragopwekker en kopieërmasjiene.

“Aangesien ek seker was dat die skool nie meer enige geld verskuldig was nie, het ek die saak opgevolg. Ek het op Donderdag 6 Augustus besoek ontvang van ’n bestuurder van Quince Capital. Hy het ’n kontrak aan my voorgelê met my handtekening daarop, maar dit was duidelik dat my handtekening vervals is. Die kontrak se inhoud het wesenlik verskil van die oorspronklike een wat in my besit is,” het hy aan Die Pos gesê.

Botha sê hy het sy ervaring op verskeie sosiale groepe, waaronder dié van die SAOU-hoofdegroep geplaas.

“Een na die ander hoof het my begin bel en gesê hulle skole is op dieselfde manier en deur dieselfde persoon ingeloop,” het Botha gesê. Die Pos het intussen bevestiging ontvang van die prokureur van Hoërskool Ellisras, Gys Grieshaber, dat dié skool ook ’n kriminele klag by die polisie teen die betrokke maatskappy gelê het vir die beweerde vervalsing van ’n handtekening op ’n kontrak. Botha het gesê hy sal geen steen onaangeroer laat om die saak op te los nie, “maak nie saak wie almal hierby betrek word nie”.

Hy het ook aan Die Pos gesê dat hy intussen ’n telefoniese dreigoproep oor die saak ontvang het.

  • Die Pos het die onderneming se kantoor in Polokwane om kommentaar genader, maar teen druktyd nie reaksie ontvang nie. Die naam van die onderneming word voorlopig op regsadvies weerhou. ’n Polisiewoordvoerder het by navraag gesê mense met soortgelyke ondervindings moet dit dadelik aanmeld.

Related Articles

Back to top button