’n Bejaarde vrou van Modimolle is onlangs uit bykans R40 000 gekul met ’n skelmstreek waarmee talle inwoners van die omgewing al gevang is.
’n Persoon skakel en sê dat hy van die slagoffer se bank af is. Baie keer sê hulle dat daar ’n verdagte transaksie plaasvind wat hulle wil verhoed en dat hulle ’n SMS aan die slagoffer sal stuur wat dan die kode vir hulle moet teruglees.
Dié kode is egter die geheime kode wat die bank juis vir veiligheidsdoeleindes aan kliënte stuur. Sodra die skelms hierdie nommer het, het hulle toegang tot die bankrekening. Geen bank sal ’n kliënt vra om besonderhede telefonies te gee nie, het AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, aan Die Pos gesê.
Die polisie is volgens hom ook warm op die spoor van twee verdagtes wat ’n bejaarde man in 2012 uit R100 000 gekul het. Die twee bedrieërs gebruik glo steeds dieselfde taktiek om mense in Limpopo en Mpumalanga in te loop.
Volgens provinsiale polisiewoordvoerder Moatshe Ngoepe het ’n man en vrou die slagoffer, wat in Phake in Mpumalanga woon, by sy huis genader. Die man het homself as “mnr. Kekana” voorgestel en gesê hy is van die departement van arbeid. Hulle het die slagoffer oortuig dat daar fout met sy pensioenuitbetaling is en dat hy hulle na ’n bank in Modimolle moet vergesel.
Hulle sou verseker dat hy die korrekte uitbetaling kry. Die slagoffer het die nodige vorms by die bank ingevul en geld uit sy rekening onttrek wat hy toe natuurlik nooit weer gesien het nie. * Die Bela-Bela-polisie is ook diep bekommerd oor die drastiese toename in bedrogsake.
Kol. Abel Phetla, stasiebevelvoerder, het by navraag gesê dit verbaas hom dat mense, ondanks talle waarskuwings, steeds voor bedrieërs se slimstories swig.
Volgens hom word bedrogklagtes ter waarde van R1,2 miljoen ondersoek. Klaers word deur ’n sogenaamde diensteverskaffer gekontak en leningsbedrae word aan hulle gebied. Wanneer die klaers instem tot die leningsbedrae word hulle gevra om bykomende fooie oor te betaal voordat die leningsbedrag in hul rekeninge betaal sal word.
Dit is dan die laaste sien van die kliënt se geld en die “diensteverskaffer” verdwyn in die niet. Phetla vermoed dat ’n sindikaat inwoners teiken. Aanlynaankope wat skeefloop duik ook al hoe meer op. Volgens Phetla het een klaer R35 000 verloor omdat hy ’n “deposito” betaal het vir ’n voertuig wat hy aanlyn sou koop.
Die voertuig sou by die koper se huis afgelewer word, maar die man is sy geld kwyt én daar was toe nooit ’n voertuig nie. Heelwat Bela-Bela-inwoners ontvang ook oproepe van mense wat hulle probeer verkul deur voor te gee dat hulle bankamptenare is of van selfoonmaatskappye is en dat daar fout met hul selfoonrekeninge is.
Hy het gevra dat mense glad nie op sulke oproepe of SMS’e reageer nie en ook nie hul geheime kodes of ID-nommer telefonies sal verstrek nie.
Geen bank, internet- of finansiële diensteverskaffer sal kliënte telefonies vir hul geheime kodes vra nie, het hy gesê.