CrimeNews

Eienaar laat onwettige sinkstruktuur afbreek

“Daar is grond beskikbaar om die plakkerprobleem op te los, maar as die regering nie op ’n wettige wyse grond bewillig nie, dryf dit mense tot onwettige grondbesettings. Die regering sal moet wakker skrik en voorsiening maak vir behuising vir sy landsburgers.” — Fred van Heerden, Bela-Bela-sakeman

Onwettige grondbesettings duur steeds voort in die Spa Park- en Koppewaai-omgewing buite Bela-Bela.

Grondbesetters het die afgelope naweek ook onwettige strukture opgerig op grond in dié omgewing wat aan Bela-Bela-sakeman Fred van Heerden behoort.

Volgens Van Heerden is dit die derde keer dat opportuniste tydens die grendeltydperk probeer het om ’n gedeelte van sy grond te beset. ’n Inwoner wat in die omgewing woon, het hom van die nuwe besetting verwittig.

“Hierdie is ’n landwye probleem, maar die regering wag mos eers dat moeilikheid ontstaan voordat hulle probeer ingryp. As hulle betyds voorsiening gemaak het vir hierdie mense, het ons nooit hierdie probleem gehad nie.”

Van Heerden se grond grens aan Spa Park Primary School wat op kaarte van die omgewing as Uitbreidings 26, 27 en 28 Warmbaths KR 827 aangeteken word. Pogings is voorheen aangewend om gedeeltes van Van Heerden se grond aan die westekant van die skool in Uitbreiding 26 te beset.

Die polisie se hulp is twee keer tydens die grendeltydperk ingeroep om besetters van sy grond te verjaag.

Van Heerden het gesê hy het op Sondag 16 Augustus ’n hommeltuig gebruik om ondersoek in te stel oor die stand van sake. Hy het toe gevind dat plakkers reeds op sy grond bedrywig is op ’n deel ten weste van die dorp op die pad wat na die ou Warmbad-dam se sluise lei. Beeldmateriaal het getoon dat daar reeds ’n sinkstruktuur opgerig is.

Van Heerden het gesê hy het ’n klag van betreding by die polisie geopen, maar nie aansoek gedoen vir ’n hofinterdik nie. Hy het die hulp van die RSRT- en Roodepoort-buurtwaglede gevra en, in samewerking met hulle, gesorg dat die betrokke struktuur op Maandagoggend 17 Augustus afgebreek word.

Die boumateriaal is by die Bela-Bela-polisiestasie afgelaai. Volgens hom was daar niemand by die struktuur teenwoordig nie.

“Die eienaar van die sinkplate is welkom om dit by die polisiestasie te gaan afhaal, maar kan verwag om aangekla te word,” het hy gesê. “As hulle weer probeer om my grond te vat, sal ek weer optree, want dit is nie hulle grond nie.”

Van Heerden het gesê onwettige grondbesettings in die Bela-Bela-omgewing kon reeds in 2013 gestuit gewees het indien die munisipaliteit ’n beskikbare gedeelte in die Roodekuil-omgewing vir informele behuising goedgekeur het.

Dié grond behoort ook aan Van Heerden. Van Heerden het ’n getekende dokument aan Die Pos getoon van ’n munisipale plan wat volgens hom in Mei 2013 goedgekeur is, maar nooit uitgevoer is nie.

Die kontroversiële Morris Maluleka was op daardie stadium die dorp se munisipale bestuurder.

Dieselfde plan is weer in 2017 voorgelê nadat die EFF Gedeelte 25 op die Alma-pad buite die dorp probeer beset het, maar Van Heerden se versoek is weer nie toegestaan nie.

“Die tekort aan behuising in ons omgewing oorskry reeds die 4000-merk. Ons verwag dat die plaaslike bevolking teen 2025 in so ’n mate sal groei dat daar ’n behoefte na meer as 10 000 huise sal wees,” het hy gesê. “Daar is grond beskikbaar om die plakkerprobleem op te los, maar as die regering nie op ’n wettige wyse grond bewillig nie, dryf dit mense tot onwettige grondbesettings. Die regering sal moet wakker skrik en voorsiening maak vir behuising vir sy landsburgers.”

Related Articles

Back to top button