CrimeNews

GPF sê hulle sal ingryp met rondlopervee-krisis

Inwoners sê die situasie is onhoudbaar omdat die munisipaliteit ook die afgelope week versuim het om vullissakke te verwyder en die beeste in dié hope vullis ingevaar het.

Daar is maar net nie einde aan die klagtes in Bela-Bela oor rondlopervee in die dorp se woongebied nie.

Die Pos berig reeds die afgelope maand oor die trop beeste wat daagliks tuine vertrap, openbare parke bemors en skade by persele aanrig.

Inwoners sê die situasie is onhoudbaar omdat die munisipaliteit ook die afgelope week versuim het om vullissakke te verwyder en die beeste in dié hope vullis ingevaar het. Ingevolge die provinsiale skutbeleid van 2002 kan vee slegs geskut word indien hulle iemand se grond betree, sonder toesig ronddwaal of wanneer ’n verkeersbeampte op ’n openbare pad op hulle afkom en vasstel dat die vee ’n gevaar vir motorryers inhou.

 

ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT

 

Die klaer moet ’n saak by die polisie registreer dat die diere op privaat- of regeringsgrond betree het en dat die diere geskut sal word vir rekordhouding, maar in dié geval tree die Bela-Bela-munisipaliteit nie op nie.

Brig. Motlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoordvoerder, het vroeër gesê die onus rus op ’n dorp se verkeersafdeling, maar dat die hulp van die polisie en gemeenskappolisiëringsforum (GPF) ook ingeroep kan word. Gerhard Olivier van die plaaslike reaksiespan-buurtwag (RSRT) en GPF-lid het by navraag gesê die Bela-Bela-polisie is reeds versoek om in te gryp.

Volgens hom het die forum magtiging gekry om self ’n klag by die polisie te lê en daarna die nodige reëlings te tref om die diere te laat skut.

“Ons is reeds besig om lede op hoogte te bring en om inligting in te samel met die doel om die beeste geskut te kry. Die beeste mis oral en veroorsaak net moeilikheid terwyl die wettige eienaar of oppasser meestal nêrens te vinde is nie,” het hy gesê.

Inwoners word aangeraai om Olivier met klagtes te bel by tel. 079 527 9988 wanneer die rondlopervee in die dorp gewaar word.

Die naaste twee skuts waarvan die polisie se veediefstaleenheid gebruik maak, is in Mokopane en Murrayhill. André Kock en Seun-veilingshuis is ook nou ’n erkende en wettige skut in die omgewing.

Die Pos het met die bestuur van dié veilingshuis bevestig dat inwoners hulle kan skakel in gevalle waar rondlopervee inwoners se eiendom betree. André Kock en Seun beskik oor die nodige vervoer en is ingerig om die vee vir ’n tydperk te huisves.


Baie dankie aan André Kock en Seun sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.

Related Articles

Back to top button